Dalviewers klok in vir die begin van hul skoolloopbaan
Die seremonie verwelkom nuwe leerders as volwaardige lede van die skool se familie.
Die Laerskool Dalview se Graad 1 groep het hul skoolloopbaan amptelik op Vrydag, 31 Januarie met ‘n kloklui-seremonie begin.
Die leerders lui die klok een keer wanneer hulle by die skool begin, en dan in Graad 7 twee keer wanneer hulle die skool verlaat.
Om in te klok behels ‘n belofte om die skool se naam hoog te dra en altyd hard te werk, en om uit te klok behels ‘n belofte om die skool se beeld verder te dra in die toekoms.
Die ouers en leerders is deur Sakkie Loots, die skool se adjunkhoof, verwelkom met die woorde: “Dis nie net jou drome wat julle (as ouers) koester nie, maar hulle (leerders) s’n ook.”
Die is die derde agtereenvolgende jaar dat die kloklui-seremonie by die skool plaasvind en vir die skool en die leerders is dit ‘n sterk simbool van familie en konneksie.
Wanneer die leerders die klok lui neem die skool hulle onder sy vlerke om hulle te beskerm en te help groei.
Konneksie was die algehele tema gewees, en is genoem deur Amalia Goosen, koördinerende direkteur van Creation Calls Christ, tydens haar opening van die geleentheid.
Haar toespraak vir die opening het meestal gehandel oor tyd, en die tyd wat ouers in sit om die beste vir hul kinders te gee.
“Ons kies vandag om tyd te spandeer met ons kinders. Tyd is geskep sodat ek en jy kan lewe,” het sy gesê.





