Local newsNews

Stefni mik vir volhoubaarheid en aanpasbaarheid met haar mode

Die Brakpan sentraal inwoner het groot drome vir 'n sakeryk wat vroue bemagtig en mode verbeter.

Stefni Binneman, ‘n Brakpan-sentraal inwoner en mode ontwerper, het haar finale jaar by STADIO School of Fashion in Randburg voltooi.

Sy kyk nou vorentoe na haar honneursgraad.

Dié jong ontwerper het verlede jaar by die Suid-Afrikaanse Modeweek uitgestal (Finale jaar modestudent stal uit by SA Modeweek, Oktober 14, 2024), en was gelukkig genoeg om onlangs ‘n boetiek oor te neem, waar sy nou haar drome verder kan uitleef.

Terwyl sy werk gaan sy haar honneursgraad voltooi oor die volgende twee jaar, ook by STADIO.

Haar navorsingsfokus gaan volhoubare en aanpasbare mode wees.

Sy wil ook kyk na maniere om ‘fast fashion’, oftewel die blitsvinnige modesiklus, wat lei na oorverbruik en meer kledingstukke op die ashoop, teen te werk, deur klere te maak wat vir dekades hou, tydloos is en sal aanhou pas deur gewigsverlies of -toename.

Uiteindelik wil sy ‘n doktorsgraad in mode behaal, en eendag ‘n besigheid besit wat die kledingstukke, lokaal, spyseniering, en vermaak aanbied vir deftige geleenthede.

Sy gaan ook vanjaar weer deelneem aan die SA Modeweek en hoop om ‘n finalis te wees met haar volhoubare mode-uitrustings.

Boonop maak sy winkelsakke met herwonne denim broeke, deur ou denims wat gevlek of geskeur is op te gebruik.

“Andersins eindig die kledingstukke gewoonlik op die ashoop, en omdat denim so ‘n swaar materiaal is neem dit meer spasie op. Dit is ‘n probleem, want ashope is onvrugbare grond nadat hulle toegeskraap word, en hoe meer ashope daar is hoe minder vrugbare grond is daar,” het Stefni vertel.

“Kledingstukke wat baie spasie opneem lei tot meer ashope. ‘n Denim langbroek, byvoorbeeld, neem omtrent dieselfde hoeveelheid spasie op as vyf chiffon toppies.”

Stefni se besigheidnaam, Starz’s Fashion was ‘n idee gebore uit ‘n Bratz pop obsessie, om haar Graad Sewe entrepreneursdag stalletjie so te noem.

Sy het sedertdien nooit gevoel of die naam nie meer pas nie, en het tot hede daaraan vasgehou.

Sy wil hê dit moet ‘n naam wees wat gelyk staan aan ‘n idee van volhoubaarheid en verantwoordelike verbruik, sowel as haar unieke kledingstukke wat meer mense se smaak sal pas as die verskeidenheid wat gewoonlik in winkels aangebied word.

Lees ook: Finale jaar modestudent stal uit by SA Modeweek

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button