Arend atleet mik vir SA’s
Sharnika het verlede jaar 'n nuwe o12 rekord in gewigstoot opgestel, en weer die jaar die o13 rekord by die interlaer verbeter.
Sharnika Janse van Rensburg, ‘n Graad Sewe leerder aan Laerskool Die Arend en die atleet van die jaar vir 2024, het vanjaar haar oog op die SA Kampioenskappe.
Verlede jaar het sy die gewigstoot item by die D5-kampioenskappe gewen, waarna sy by Gauteng sesde plek gekry het.
Hierdie jaar, met twee nuwe rekords agter die rug, hoop sy om nog verder te gaan en nasionaal te kompeteer.
“Hierdie sterretjie in wording het al haar prestasies behaal sonder enige formele of professionele afrigting,” het haar trotse pa, Francois Janse van Rensburg gesê.
Sy het tydens die onlangse interlaer byeenkoms die o13-meisies gewigstoot rekord gebreek. Verlede jaar het sy ook die rekord, in die o12-ouderdomsgroep, by die interlaer verbeter.
Boonop het sy vir die eerste keer aan die spiesgooi en diskus items deelgeneem, waar sy vir albei goud gewen het.
Dit is besonder, omdat sy slegs vir ‘n week in die items geoefen het.
Sy het op 7 Februarie aan die Groter Brakpan byeenkoms deelgeneem, waar sy goud vir al drie items ontvang het, en beweeg dus aan na die D5 byeenkoms wat op 18 Februarie plaasvind.
Lees ook: Laerskool Die Arend kondig hoofleiers en top presteerders aan



