BRIEF: Oud-Brakpanner geskok oor begraafplaas se verval
Wanneer mense grappe maak oor Brakpan het ek altyd met trots gepraat van ons mooi dorp, nou sak ek my kop in skaamte

Oud-Brakpanner, wat vrek lief is vir Brakpan skryf per e-pos:
Die Brakpan begraafplaas se haglike toestand was ‘n groot skok vir my.
Ek was al my jare ‘n Brakpanner en het hier skool gegaan en groot geword. My moeder was al ‘n paar keer in die Brakpan Herald en sy was ‘n geliefde inwoner an die dorp.
Ek het na die Weskus verhuis en het die week terug gekeer na Brakpan om my ma te begrawe.
Die skok was groot toe ek op 10 Februarie sien hoe die plek lyk.
Dit lyk soos ‘n oerwoud, onversorgd en in ‘n haglike toestand.
Aan die stadsraad en leiers: Waarvoor het die mense gestem? Gee jul nie meer om vir Brakpan of ons geliefdes nie?
My pa, suster, broer en baie familielede se grafte is almal daar. Dit is hartverskeurend.
Ons eens lieflike dorp het verval. Wat word van die belastingbetalers se geld? Dit is ‘n skande dit so lyk. Kry jul nie skaam oor ons dorp nie?
Gelukkig is daar mense wat nog probeer, wat lief is vir die dorp. Wanneer mense grappe maak oor Brakpan het ek altyd met trots gepraat van ons mooi dorp, nou sak ek my kop in skaamte oor die verval.
Hoekom doen die party waarvoor daar gestem is om die dorp te bestuur niks? Hoekom lyk ons eens mooi dorp so vervalle? Is daar geen eer meer in julle nie?
Belasting word betaal en nou moet ander mense betaal om jul werk te doen.
Lig jul koppe op Brakpanners en staan saam; kom ons red ons dorp! Want die party wat hier gewen het gee nie meer om nie en hou nie hul woord nie.
Hulle is blind vir die verval van die dorp en wat ek gesien het sê vir my hulle gee ook nie om nie.
Ek wonder of dit steeds so sou gelyk het indien hul geliefdes daar gelê het.



