BRIEF: Voorval laat vrou onveilig voel in begraafplaas
Die twee mans, het verdwyn en weer ewe skielik te voorskyn gekom.

Annamarie Bruwer skryf per e-pos:
Ek sien baie mense kla deesdae oor die Brakpan Begraafplaas. (Met verwysing na die brief in die Herald van 14 Februarie: Verval van Brakpan Begraafplaas ’n skok).
Ek wil nie kla nie maar eerder ander mense waarsku. My seun het my so twee weke gelede gevat om my man se graf ‘n bietjie skoon te maak.
Ja, ons was geskok oor hoe die plek lyk maar ek dink nie mense is meer veilig om soontoe te gaan nie.
Ons het met my seun se bakkie stilgehou en uitgeklim.
Hy het twee mans gesien wat daar naby gesit het en nogal vir my gesê dat dit nie eintlik ‘n plek is vir mense om rond te hang nie.
Toe ons weer kyk was die mans weg en toe ons weer kyk het hulle omtrent twee meter van die bakkie gesit en baie verdag voorgekom.
Gelukkig het my seun ‘n vuurwapen by hom gehad. Ons het alles net so gelos by my man se graf en vinnig na die bakkie beweeg en weggery.
Toe my seun terug kyk in die truspieël het die twee vinnig weggehardloop. Die hele situasie was net vreemd en ontstellend.
Ek besoek nie my man se graf baie nie maar ons sal nou twee keer dink voordat ons dit weer daar waag.
Is dit dan nie maar ‘n plek waar ‘n mens met respek en in vrede vir jou geliefde kan gaan kuier nie?
Dit is baie hartseer dat ons so in vrees moet lewe.
LEES OOK: BRIEF: Oud-Brakpanner geskok oor begraafplaas se verval
LEES OOK: BRIEF: Haweloses wat op sypaadjies slaap pla



