Local newsNews

Brenthurst inwoner bou self unieke karavaan wat verstom

Die modulêre en futuristiese ontwerp lok gereeld mense wat verby die paartjie se huis ry om te kom kyk.

Brenthurst inwoner Jan Nicholl (53) het ‘n karavaan gebou wat die verstand te bowe gaan, in ‘n styl wat nog nie in Suid-Afrika te siene is nie.

Die karavaan, wat deur sy vrou Hannetjie Nicholl beskryf word as ‘n luukse hotelkamer op wiele, is gebou met items wat in ‘n algemene hardeware winkel gevind kan word.

Die onderstel is wel deur ‘n maatskappy voorsien, en die sonkrag sisteem is later geïnstalleer, maar die struktuur van die karavaan is deur Jan ontwerp en gebou.

Jan het sy besigheid ‘n wyle gelede verkoop. As kranige kampers het die gesin ‘n karavaan gehad, maar die vorige karavaan was nie die grootte wat die paartjie verkies nie. Dus het hulle dit verkoop.



Nadat hulle ‘n soortgelyke karavaan as die een wat Jan gebou het in ‘n tydskrif gesien het, het Jan besluit om een te ontwerp en te bou.

Die bou van die karavaan het hom ongeveer vier maande geneem. Hy het in sy erf gewerk, aangesien hy nie ‘n werkswinkel het nie.

Weens sy ambag, het hy reeds die toerusting en kennis gehad om die karavaan te kan bou. Om die karavaan te kan sleep en daarin te kan bly moes dit noukeurig geweeg, gemeet en gelisensieer word.

Die karavaan weeg byna twee ton, is 2.1m hoog en wyd, en 6m lank. Die paartjie het al twee keer in die karavaan gaan kamp, en hulle is baie gelukkig met hierdie futuristiese mobiele tuiste.


Jan en Hannetjie Nicholl geniet hul nuwe karavaan.

Die vensters is bedek met ‘n film wat lig inlaat, maar niemand kan in sien nie. Daar is lugversorger, sonkrag sisteem, ‘n werkende badkamer met ‘n stort, toilet en wasbak, ‘n ingeboude yskas en mikrogolf oond, en selfs ‘n televisie.

Die karavaan lyk meer soos ‘n ruimteskip as ‘n karavaan.

“Ons het al 3 000km getoer, en het nog geen probleme gehad nie,” vertel Jan.

‘n Bonus is dat die sonkrag sisteem hulle toelaat om op enige plek te kamp, maak nie saak of daar krag of ablusie geriewe is nie.

Jan is tans besig om die ontwerp te patenteer, en sê hy het baie geleer terwyl hy aan die karavaan gewerk het.



LEES OOK: Music therapy at San Michele provides enrichment

LEES OOK: Oudste dogter van Springs se ‘Huis van Gruwels’ deel haar storie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button