Brakpan Rugbyklub struikel in halfeind maar staan steeds sterk
Die spelers sal nou op die Valke President Liga, wat op 5 April in aanvang neem fokus.

Die Brakpan Rugbyklub het Saterdag na Pretoria gereis vir die halfeind wedstryde in die Castle Super Liga. Die kragmeting het teen die Naka Bulle plaasgevind. Brakpan eerstes het vasgeval en het hul wedstryd met 54-5 verloor.
Die tweede span het ‘n beter dag op die veld beleef maar kon net-net nie daarin slaag om te wen nie. Die eindtelling was 19-14. Brakpan o21s het hul wedstryd met 38-10 teen die Naka Bulle se derde span gewen.
Die voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, Frikkie Bosman het gesê alhoewel die uitslag wel teleurstellend is, gaan Brakpan beslis nie lê nie.
“Ons moet besef ons het teen die nommer een klub in die land gespeel en alhoewel ons ‘n rugby les geleer is , is ons nog steeds besig met ‘n proses en is ons beslis nie ontspoor nie,” het Bosman gesê.
“Ons het volle vertroue in ons bestuur, afrigters, ondersteuners, borge en spelers en ondersteun mekaar 100%. Ons sal beslis opstaan en die lesse ter harte neem,” het hy bygevoeg.
Die eerste span sal nou uitspeel vir die derde en vierde plek in die Castle Super liga. Daarna sal die spelers ‘n blaaskans vat omdat die Valke President Liga op 5 April begin.
LEES OOK: Stoffies oortuig met hul toesprake
LEES OOK: Phoenix Netball Club grab second place in tournament