Local newsNews

Samewerking bring groter verandering sê Helpende Hand

Die geleentheid was om 'n beter pad vorentoe vir die gemeenskap te bewerkstellig.

Solidariteit Helpende Hand het Dinsdag ‘n netwerk geleentheid aangebied waar kerke, nie-winsgewende organisasies en ander rolspelers van gemeenskap projekte bymekaargekom het om idees uit te ruil, kontakte te bou en samewerking te bevorder.

Die geleentheid het by die Silver Wolf Spur in die Mall@Carnival plaasgevind.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het gepraat oor die strategieë wat organisasies moet aanneem om meer sukses en volhoubare verandering in hul projekte te sien.

Volgens hom is Suid-Afrika in die vierde geslag van armoede, wat saam met misdaad gepaard gaan.

“Ons ‘welsyn’ mense dood; so hoe kom ons daaruit? Ons moet mense uit die armoede help met werk, kerk en opvoeding,” het hy verduidelik.

Noëth sê dit is nie genoeg om net kos of geld te gee nie, want dit maak mense lui.


Die Spur span wat die geleentheid moontlik gemaak het saam met die Solidariteit Helpende Hand span.

“Ons is so besig om mense wat kán werk te versorg dat ons niks tyd en hulpbronne oorhet om dié wat nié kan werk nie te help,” sê hy.

Tog sê hy daar moet nie opgegee word op dié wat kán werk nie, want die samelewing gaan agteruit wanneer mense mekaar nie meer help nie.

Hoe ‘n mens help, is belangrik, en in plaas daarvan om kos of geld uit te deel, stel hy voor dat organisasies mense moet help om werk te kry, om die vaardighede en ervaring op te doen wat hulle indiensneembaar maak.

Nog ‘n fokus van sy aanbieding was die omgewing.

“Jou omgewing skryf jou gedrag voor. As jou omgewing skoon is, is jou kop skoon,” het hy verduidelik.

Een van die groepe wat hy geïdentifiseer het as ‘n groep wat wél baatvind by versorging, is bejaardes. Volgens hom is die grootste tekort onder bejaardes nie geld of kos nie, maar sosiale verhoudings.


LEES OOK: Koffie word kuns by Brakpan VLU se maandvergadering


Die doel van die geleentheid was vir organisasies soos AfriForum, kerke, die GPF, en instansies soos die San Michele Tehuis vir intellektueel- en fisiese gestremde volwassenes, om saam te beplan aan maniere waarop die groepe mekaar kan ondersteun.

Die idee is dat projekte ontwerp kan word waar meer as een kwesbare groep kan baatvind by een projek.

Kerke met rehabilitasie projekte kan byvoorbeeld met Clean Brakpan saamwerk deur mense uit hierdie projekte as arbeidsmag te betrek om die dorp te help skoonmaak.

’n Ander voorbeeld wat genoem is, is dat organisasies ’n projek kan begin om werklose mense te help voorberei om hul bestuurslisensies te bekom, wat hul indiensneembaarheid kan verbeter.

Na die formele verrigtinge en kleiner besprekings het die groep ‘n ontbyt geniet wat geborg is deur Spur.

Die geleentheid is deur Spur lynbestuurder, Jason Peterson, gereël.


LEES OOK: CHB Community Upliftment Centre to host fun run fundraiser


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button