Local newsNews

Dalpark tiener skitter op wêreldverhoog met Miss World Junior-kroon

Megan wil graag die wêreld verken en meer van ander lande en tradisies te wete kom.

Dalpark-inwoner Megan Coetzee (16) is onlangs gekroon as Miss World Junior 2025 én Miss Sympathy, World League of Beauty & Fashion (WLBF) tydens die gesogte WLBF-geleentheid in Turkye.

Benewens hierdie titels het Megan ook voorheen die internasionale titels van Supermodel of the World en Miss Teen Universe 2025 verower en daarmee haar posisie as ’n opkomende ster in wêreldwye skoonheidskompetisies bevestig.

Megan en haar ma, Gerda Coetzee, het saam na Turkye gereis vir die kompetisie, en sy beskryf die ondervinding as ’n belewenis.

“Dit was my eerste reis oorsee en ek het elke oomblik geniet,” vertel Megan.

Die kroningsaand was natuurlik ’n hoogtepunt ná dae van harde voorbereiding, en Megan vertel dat sy eers geskok was toe haar naam as wenner uitgelees is.


LEES OOK: Fun day raises funds and awareness for Sonneveld toddler fighting rare cancer


“Kort daarna was daar ’n wonderlike sensasie van verligting, blydskap en trots wat oor my gespoel het,” het die mooi tiener vertel.

Sy noem dat haar ma en haar afrigter, Deon Krause, haar groot inspirasie was om vir die kompetisie in te skryf en daarmee deur te druk.

“Ek het al die spanaktiwiteite veral geniet, alhoewel ons vir baie lang ure geoefen het. Tog was dit groot pret. Ons het baie beleef en gesien, en nuwe vriende gemaak. Dit was moeilik om totsiens te sê.”

Sy vertel dat Turkye ’n pragtige land is, en die tradisies het haar veral opgeval.

Megan, wat vanjaar in matriek aan Hoërskool Stoffberg is, wil graag op die res van die jaar fokus en sien uit na die perfekte matriekafskeid.

“Ek het ’n groot begeerte om te reis, en die wêreld te verken – lande, tradisies, en alles wat goed en mooi is, in te neem.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button