Sterk seisoen begin vir Brakpan Rugbyklub teen NWU Vaal
Brakpan se volgende wedstryde is Saterdag teen Benoni op Benoni se sportgronde.
Brakpan Rugbyklub het Saterdag ‘n kragtige begin tot hul Valke Peregrine Liga gemaak teen ‘n taai teenstander, NWU Vaal.
Brakpan het tuis gespeel in wedstryde wat goed ondersteun is deur toeskouers. Die eerste span het ’n oorwinning van 57-14 behaal.
“Brakpan lyk of hulle momentum begin kry en is geseënd met diepte in baie posisies. Die kompetisie tussen die spelers is taai en gesond,” het die voorsitter van die klub, Frikkie Bosman, gesê.
Brandon Swart, wat ’n goeie dag op die veld beleef het, met ’n bykans voltooide driekuns, was ’n doring in die vlees vir sy teenstanders. Hy is aangewys as die speler van die wedstryd.

Die tweede span het ’n oorwinning van 52-17 aangeteken, met haker Adriaan du Plessis wat as speler van die wedstryd aangewys is.
Adriaan het die verdedigingslyne met gemak gebreek en sy verdediging was rotsvas.
Brakpan o21 span het ook hul kant gebring en in ’n harde wedstryd gelykop gespeel met 40 elk teen NWU, wat die laaste ses seisoene die o21 kampioene is.
Dié wedstryd het ietwat van ’n antiklimaks gehad as gevolg van die skrums wat onbestrede was. Sarel Vermaak het uitgestaan en is aangewys as die speler van die wedstryd.
LEES OOK: Brakpan runner strives for nationals qualification to honour father
Hy was ’n handvol op die aanval en het twee keer vir sy span agter die doellyn gaan kuier.
Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, het gesê hy is verheug oor die positiewe en opwindende rugby wat die klub regdeur al sy spanne speel, en dat die afrigters, spanbestuurders en bestuur bedank moet word vir hulle bydraes hierin.
“Die gemeenskap en ondersteuners kan trots wees op wat huidiglik gelewer word deur die klub in totaliteit, en ons is dankbaar vir die ondersteuning,” het hy bygevoeg.
Brakpan se volgende wedstryde is Saterdag teen Benoni op Benoni se sportgronde.
LEES OOK: Want coverage for your local sports event? Contact the Brakpan Herald





