Bekende Brakpan gemeenskapsleier en motorklub stigter, Bart Zaayman oorlede
Bart Zaayman het vir die 35 jaar wat hy in Brakpan gewoon het diep spore getrap.
Bart Zaayman (73), stigterslid van die Just Wheels Motorklub, is gisteraand (Maandag) ná ’n stryd teen kanker oorlede.
Hy was veral bekend vir sy absolute passie en toewyding aan die motorklub, maar het ook op vele ander gebiede daagliks mense in die dorp se lewens aangeraak.
Hy en sy vrou, Mariaan (70), het op 22 Februarie vanjaar hul 50ste huweliksherdenking gevier.
Sy het Dinsdagoggend aan die Herald gesê dat Bart, ná ongeveer ’n maand in die hospitaal, sy stryd teen kanker verloor het.
“Hy is verlede jaar in September met kanker gediagnoseer, en daar was komplikasies nadat hy bestraling ontvang het,” het Mariaan vertel.
“Hy was daarna nooit regtig gesond nie en het die laaste vier weke in die hospitaal deurgebring,” het sy bygevoeg.
Mariaan en Bart het die afgelope 35 jaar in Dalpark Een gewoon, waar Bart ’n groot rol in die gemeenskap gespeel het.
Hy was vir jare die voorsitter van die Dalpark Een Huiseienaarsvereniging, en hy het uit sy pad gegaan om seker te maak dat dienslewering in die woonbuurt geskied.
Wanneer dit nié die geval was nie, het Bart self ingespring en gedoen wat hy kon.
Dit was nie vreemd om hom op ’n trekker te sien waar hy besig was om gras te sny, of met ’n watertenk na ’n huis te jaag wat gebrand het nie.
Die Just Wheels Motorklub het op 29 Junie 2010 tot stand gekom het. Onder Bart se voorsitterskap het die klub jaarliks ’n motorskou aangebied by die Muriel Brand Skool, wat deur duisende mense bygewoon is.

Die skool het die opbrengste van die motorskou ontvang. Na Covid het die klub ’n permanente tuiste gekry by die destydse jukseibane in Kitzingerlaan, waar Bart sy passie vir die klub verder uitgeleef het.
Hy het saam met sy komitee ’n klubhuis tot stand gebring, en die maandelikse opedae van Just Wheels word steeds deur groot getalle mense bygewoon. Hy was bekend vir sy goedhartigheid en liefdadigheidswerk, en kinders en bejaardes het hom veral na aan die hart gelê.
Hy het ook die Brakan vir Brakpan-organisasie op die been gebring, en gedurende Kersfees het hy gereeld as Kersvader opgetree om geskenke aan kinders en bejaardes in sy woonbuurt uit te deel.
Bart was vir jare by Spoornet werksaam en het modeltreine begin versamel vandat hy 10 jaar oud was. Hy het sy liefde vir dié stokperdjie verder gevoer deur ’n uitleg met sy treine te bou, wat ’n miniatuurdorpie met ongelooflike detail ingesluit het.
“Hy was baie trots op daardie projek van hom, en hy het dit geniet wanneer mense, veral kinders dit bewonder het,” het Mariaan vertel.
Hy en Mariaan het ’n dogter, Yolande Zaayman (44). Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
LEES OOK: Just Wheels Club pays tribute to engine legend with Boeremark and Engine Day
LEES OOK: Brakpan parents face emotional and financial ordeal after premature birth of baby



