Gesin van Brakpan-Sentraal haweloos ná brand tuinwoonstel in puin lê
Die gesin van vyf het saam gebly in die woonstel en is nou haweloos.
Vir Ronel (47) en Clifford (52) Calitz van Brakpan-Sentraal het die nag van 4 Junie omstreeks 02:00 in ‘n nagmerrie ontaard toe hul tuinwoonstel afgebrand het en skade van sowat R40 000 aangerig is.
Niemand is beseer nie, en die brandweer is onmiddellik ontbied, maar het glo eers ongeveer 55 minute later opgedaag.
“Ons sou baie meer kon red as hulle vroeër daar aangekom het,” het Clifford vertel.
Die brandweer is twee keer deur Clifford ontbied en een keer deur ‘n sekuriteitsmaatskappy wat op die toneel was. ‘n Kers het vermoedelik omgeval terwyl die huisgesin, wat uit vyf mense bestaan, geslaap het.
Ronel en Clifford se jongste seun, Keegan Brooks (10), was saam met hul dogter, Dené Coetzer, en haar verloofde, Domain Potter, in die tuinwoonstel.
LEES OOK: Fun, food and family spirit at Excel Edu Centre’s Family Day
Die gesin woon tans by hul dogter, maar is tegnies haweloos en benodig dringend nuwe blyplek. Boonop is al hul meubels – wat die grootste deel van die R40 000 se skade uitmaak – heeltemal verwoes, en hulle het nou dringend nuwe meubels nodig.
Navraag is aan die Ekurhuleni nooddienste gerig, en die terugvoer was dat hulle ongeveer drie minute geneem het, vandat hulle die oproep om 02:14 ontvang het om die eerste trok om 02:17 op die toneel te kry.
“Brakpan brandweerstasie, die primêre reaksiespan, het daarin geslaag om die brand onder beheer te kry met water van die brandweerwa se tenk en nog ‘n pyp wat aan die brandkraan gekoppel is vir volhoude water toevoer,” het die verklaring van William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro se nooddienste gelui.
“As gevolg van die risiko assessering op toneel is hulp ontbied van die distrik brandweer stasie, wat op toneel aangekom het nadat die brand geblus is.”
LEES OOK: KYK: Huldeblyke aan Bart Zaayman van regoor die gemeenskap




