Brakpan en Springs rugbyspanne is gereed vir kragmeting op Bosman Stadion
Die kragmeting tussen die spanne van die twee buurdorpe lewer altyd aanskoulike rugby op.
Die kragmeting van alle kragmetings vind Saterdag by die Bosman Stadion plaas wanneer Brakpan en Springs se rugbyspanne mekaar in die Valke Peregrine Liga die stryd aansê.
Benewens dié wedstryde, wat rugby van die hoogste gehalte behoort op te lewer, sal daar ook verskeie ander wedstryde tussen laer- en hoërskole plaasvind.
Asof top rugby nie genoeg is vir die spyskaart nie, word daar ook deur die loop van die dag ander vermaak en aktiwiteite aangebied.
“Ons nooi oud-spelers, ondersteuners en die publiek uit om ‘n genotvolle dag by die Brakpan Rugbyklub deur te bring,” het die voorsitter van die klub, Frikkie Bosman, gesê.
“kykNET gaan ook teenwoordig wees om ‘n uitsending oor Brakpan en die klub te maak,” het Bosman bygevoeg.
Brakpan se eerstes, tweedes en o21s sal teen Springs uitdraf. Wedstryde tussen die Hoërskole Stoffberg en Die Anker beloof om skouspelagtige rugby op te lewer. Trompoppies van Dr EG Jansen en Die Anker sal tussen die wedstryde die skare vermaak.
“Ons rig ‘n spesiale uitnodiging aan al die oud-spelers van Brakpan en Springs om by ons aan te sluit,” het Bosman gesê.
Dié oud-spelers kan tussen 12:30 en 14:00 in die nuwe saal bo die paviljoen bymekaarkom. Die o21-wedstryd begin om 13:00, met die tweede span wat om 14:40 afskop en die eerstes wat om 16:00 op die veld draf.
“Ons werk hard daaraan om ons besoekers ‘n genotvolle dag te bied met vermaak, heerlike kos, verversings en goeie rugby,” het Bosman gesê.
Die toegang is R20 per persoon en R20 per voertuig. Die toegangsfooi vir skoliere wat nie in skooldrag geklee is nie, beloop R10, en toegang vir skoliere met skoolklere is gratis. Geen koelerbokse sal toegelaat word nie.
LEES OOK: Brakpan youth leader earns global honours for leadership and change
LEES OOK: WATCH: Local activist invites youth to help clean up old library



