Local newsNews

Nieroorplanting is enigste hoop vir Felicitas leerder

Volgens die kind se ma is sy toestand tans wisselvallig en is haar hoop gevestig op ‘n geskikte nier vir haar kind.

Owen Haywood (12), ‘n leerder van Felicitas Skool wat graag langafstand hardloop, deel is van die skool se revue en daarvan hou om speletjies op sy foon te speel, se lewe het onverwags ‘n donker draai geneem, want hy het nou dringend ‘n nieroorplanting nodig.

Owen het aan die einde van Julie siek geword. Sy ma, Johanna Haywood, het hom by die skool gaan haal en na ‘n staatskliniek geneem, waar vasgestel is dat sy bloeddruk baie hoog en sy bloedsuikervlak baie laag was.

“‘n Ambulans is ontbied en hy is na die Verre-Oos-Rand Hospitaal vervoer, waar toetse en ‘n sonar gedoen is,” het Johanna gesê.

Díe het getoon dat Owen net een nier het, en dat dit in nierversaking is.

“Ek was heeltemal geskok, aangesien ek nooit geweet het dat my kind net een nier het nie,” het Johanna vertel.

Op 6 Augustus is Owen oorgeplaas na die Nelson Mandela Kinderhospitaal in Johannesburg vir dialise, maar daar is bepaal hy is te swak vir dialise, en dat sy enigste uitweg ‘n nieroorplanting is.

“Familie is nie geskik vir orgaanskenk nie, weens gesondheidsprobleme en ouderdom. Die gevolg is dat Owen op die orgaanskenkingslys geplaas is en moet wag tot ‘n nier, wat sy liggaam nie sal verwerp nie, beskikbaar is,” verduidelik Johanna.

Hy is teruggeplaas na Verre-Oos-Rand en teen 12 Augustus is daar volgens Johanna geen stappe geneem om vir hom ‘n nier op te spoor of enige behandeling aangewend nie, wat sy simptome kan verlig.

Op 18 Augustus is daar bevestig dat ‘n dokter by die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg die oorplanting kan doen, maar daar word nog steeds gewag op ‘n nier.

Die Verre-Oos-Rand Hospitaal is genader vir kommentaar oor Owen se geval. Phumza Ntuthuka, die hospitaal se kommunikasiespesialis en ondersteun deur Sonwabo Lindani, die hospitaal se hoof uitvoerende beampte het soos volg gereageer (vertaal uit Engels): “Die Verre-Oos-Rand Hospitaal is ‘n vlak-2 hospitaal en nie ontwerp om die spesialis-gesondheidsorg te bied wat die kind benodig nie.


Johanna en Owen Haywood het ‘n baie hegte band.
PHOTO: Verskaf deur Johanna Haywood.

“Die kind se toestand is met die ouers bespreek, en na gesprekke was daar verduidelik deur die Nelson Mandela Kinderhospitaal dat die kind nie ‘n kandidaat is vir ‘renal replacement therapy’ soos dialise nie.

“Die kind is terug verwys na Verre-Oos vir behandeling van simptome verwant aan kroniese niersiektes. Hy is tans in die hospitaal en dokters doen alles wat hulle kan vir hom.”

Teen druktyd was daar planne om Owen te ontslaan waarna sy ma hom tuis sal versorg met ‘n spesiale voorgeskrewe dieet waarvoor sy self die nodige aankope moet doen.

Owen se skielike mediese toestand plaas finansiële druk op Johanna wat steeds fondse benodig om die aangepaste dieet moontlik te maak en dit volhoubaar te maak.

Verdere uitgawes om Owen na opvolgbesoeke by hospitale te neem staar haar ook in die gesig. Enigeen wat ondersteuning wil bied kan vir Johanna kontak by 078 751 4807.




LEES OOK: Residents blame a main line blockage for ongoing sewage leak at Weltevreden Flats

LEES OOK: Dalpark inwoner volg passie vir skryf met bekendstelling van sy debuutroman

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button