Local newsNews

Dalpark inwoner volg passie vir skryf met bekendstelling van sy debuutroman

Die roman bevraagteken die mensdom se afhanklikheid op en evolusie in tegnologie in die aanlyn-speletjie sfeer.

Morné Dieperink (31) van Dalpark 6 laat nie gras onder sy voete groei nie en werk hard om sy drome uit te leef. Hy het onlangs sy debuutroman, Seil, vrygestel.

Dit is ’n Engelse roman, hoewel sy redakteur meen dat hy beter in Afrikaans skryf. Dit is ‘n sielkundige riller oor ‘n man met ‘n perfekte lewe wat begin om grafiese nagmerries te kry, wat hy aanvanklik toeskryf aan stres.

Dit is nie die eerste boek wat Morné geskryf het nie, net die eerste wat hy suksesvol uitgegee het. Hy beoog om nog baie stories te vertel en baie boeke uit te gee.

Stories is sy nalatenskap, en hy hoop om eendag ’n groot nalatenskap te laat wat ’n blywende impak op die samelewing sal hê.

Stories is ’n manier vir Morné om aspekte van die samelewing te bevraagteken en sodoende kommentaar te lewer op onderwerpe waaroor hy sterk voel.

Seil is ‘n brokkie kommentaar op die evolusie van tegnologie in die aanlyn-speletjiesfeer, veral die virtuele realiteit. Hy wonder die oor die sosiale nagevolge wat ’n afhanklikheid van virtuele realiteit kan kweek onder die jeug, en hoe dit die perke tussen realiteit en fiksie kan vervaag.


Die boek se finale ontwerp soos gedruk deur Reach Publishing. PHOTO: Verskaf deur Morné Dieperink.

Hoe die vraag in die roman beantwoord word, is vir die leser om self uit te vind wanneer hulle die boek lees. Morné het in Meyerton groot geword en het in 2013 aan die Dr Malan Hoërskool gematrikuleer.

Hy het gewerk in restaurante, en selfs op ’n stadium een bestuur, voordat hy besluit het om elektriese ingenieurswese te studeer.

Hoewel hy die ingeneurswese geniet het, het hy gevoel dat dit nie sy absolute passie is nie. Hy het besluit om ‘n voltydse fiksieskrywer te word.

Dit het hy reggekry met die ondersteuning van sy familie: sy ma Wilma Dieperink (51), stiefma Cheryl Findley (wat nooit haar ouderdom bekend maak nie), suster Jessica Woolley (28) en kêrel James Brown (31).

As hy getwyfel het in sy vermoë, of aan die moontlikheid dat hy ooit gepubliseer sou word, het hulle hom aangehits en ondersteun.

“Sonder familie is ons niks. Ek sou nie wees waar ek is sonder hulle nie, hulle onuitputbare geloof in my. Dit het my gedruk om aan te hou werk aan my droom,” vertel hy.


LEES OOK: Brakpan drivers swerve and pay as potholes persist


As kind was Morné stil en teruggetrokke, en het hy sy ontvlugting in boeke gevind, die wêrelde wat skrywers kan skep.

“Ek het besef ek kan my eie wêrelde skep en my passie vir skryf het ontstaan,” verduidelik hy.

Vir hom is skryf nie soos werk nie; dit put hom nie uit nie, en dit gaan ook nie eers oor geld nie.

“Ek verstaan ek sal genoeg geld moet maak om myself aan die lewe te hou, maar dit gaan vir my oor die liefde van die saak,” sê hy.

“Skryf laat my toe om my mening te lug.”

Sy skryfproses is baie tradisioneel wat sy fisiese metode betref. Hy skryf sy stories met die hand, met ‘n pen, en dra dit daarna digitaal oor na sy rekenaar.


LEES OOK: Caxton editor appointed to board guiding SA’s R114m Digital News Transformation Fund


Anders as dit het hy geen vaste proses nie, en hou hy daarvan om rond te speel met sy skryfwerk. Soms sal hy vir vriende vra om hom een woord te gee, waaruit ‘n storie dan ontstaan.

Ander kere kom die idee net na hom toe, en hy skryf neer wat hy kan onthou.

Om ‘n boek klaar te maak kan hom van ses maande tot twee jaar vat, en sy raad aan skrywers wat ernstig wil begin skryf is om nie op te hou nie.

“Jy gaan vassteek op ‘n boek. Dit gaan lank vat en baie werk verg, maar dit is die moeite werd. Moet nie ander skrywers probeer namaak nie. Jy is wie jy is, so streef daarna om jouself te wees,” sê hy.

Skryf kom volgens hom met baie uitdagings, maar aan die einde van ‘n projek vertel hy dat dit voel asof jy ’n pasgebore baba vir die eerste keer vashou – dis iets wat jy gemaak het.

Sy persoonlike filosofie is om altyd die goeie te sien in alles, klein en groot, want die lewe is te kort om te fokus op die negatiewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button