Afrigter kom tot die redding na jong speler met allergie op by trap
Toe die 11-jarige Damian Bates Saterdag op 'n by trap tydens sy eerste wedstryd vir Brakpan Rugbyklub, was dit sy voormalige Springs afrigter Jacques Dirksen wat gou opgetree het om hom te help.
Die voormalige afrigter van ’n jong rugbyspeler, wat hoogs allergies vir bysteke is, het Saterdag tot sy redding gekom toe hy tydens ’n rugbywedstryd in Brakpan op ’n by getrap het.
Damian Bates (11) van Welgedacht het die afgelope drie jaar vir die Springs Rugbyklub uitgedraf, maar het verlede week by die Brakpan Rugbyklub aangesluit.
“Ons het dié skuif gemaak weens persoonlike redes en dit was beslis nie ’n maklike besluit nie,” het sy ma, Melissa Bates, verduidelik.
Die opwinding was Saterdag groot toe Damian vir die eerste keer vir Brakpan op die veld gedraf het tydens ’n tuiswedstryd. Sy voormalige Springs-afrigter, Jacques Dirksen, was ook langs die veld om Damian te ondersteun.
“Damian is baie allergies vir bye, en net sekere mense wat al beleef het waardeur ons gaan wanneer hy deur ’n by gesteek word, sal verstaan hoe groot die risiko is,” het Melissa verduidelik.
“Indien daar nie dadelik en korrek opgetree word nie, beland Damian in die hospitaal.”
Volgens haar was dit ’n wonderwerk dat Jacques Saterdag langs die veld was, aangesien Damian tydens die eerste helfte van die wedstryd op ’n by getrap het.
“Jacques het dadelik gehardloop, vir Damian opgetel en presies geweet wat om te doen. Hy is ook bewus daarvan dat ek altyd medikasie by my het, en hy het aan die mediese bystand wat daar was gesê om niks toe te dien totdat ek by my kind uitgekom het,” het Melissa vertel.
“Hy het so mooi na Damian omgesien dat ons nie hospitaal toe moes gaan nie. Jacques het die res van die wedstryd langs die veld gesit met Damian aan sy sy.”
“Dit spreek boekdele van sy karakter en die goeie afrigter wat hy is. Hy het nie geskroom om die veld te betree, waar Damian onder sy nuwe afrigter gespeel het, om my kind te help nie. Ek is bitter dankbaar dat Jacques op die regte tyd langs die veld was; anders kon dinge ’n baie lelike nadraai gehad het,” het Melissa gesê.
“Ek dink hy verdien die ‘Coach of the Year’-toekenning. Die liefde en toewyding wat Jacques vir sy spelers het, is onbeskryflik,” het Melissa mee afgesluit.
LEES OOK: Potjiekos kompetisie by Downtown baat bejaardes en kinders
LEES OOK: Dalpark Primary School learners makes it all the way to provincial finals of Science Olimpiad




