‘Dit spook g’n by ons huis’ sê Queenlaan inwoners
Na 'n Facebook plasing gemaak is wat getuig dat die huis spook het mense alle tye van die dag en nag begin opdaag om fotos te neem.
Inwoners van ‘n huis in Queenlaan word die afgelope tyd oorval deur onverwagte en ongenooide besoekers wat hul huis kom beloer en selfs afneem met een doel voor oë: om ‘n spook te sien.
Volgens inwoner Linda Blane het ‘n Facebook-plasing deur ’n persoon oor sogenaamde onnatuurlike gebeurtenisse vir hulle baie moeilikheid veroorsaak.
In die plasing word daar beweer dat die huis leeg staan, en dat die geskreeu van ‘n jong vrou snags gehoor kan word.
Daar word ook beweer dat paranormale inspekteurs die huis besoek het en allerlei bewyse van spoke en demoniese teenwoordigheid waargeneem het.
In werklikheid woon daar al vir die afgelope vyf jaar ’n familie in die huis wat kwansuis leeg staan. Linda self woon al twee jaar in die huis, en volgens haar is daar nog nooit enige spookagtige verskynings waargeneem nie.
“Daar was ook nooit enige spooksoekers hier by ons huis nie. Sedert die inskrywing op Facebook geplaas is, is dit net chaos.
“Nou bel mense my onophoudelik om te vra oor die spooksoekers, en vreemde mense daag regdeur die nag op om die huis af te neem.
“Hoe moet ons weet wie is daar om spoke te sien en wie is daar om die huishouding se doen en late waar te neem vir toekomstige misdaad?
“Ek bly al lank heel lekker hier, en al wat ek in die aande hoor is engelkore voor ek gaan slaap, niks ‘horrors’ nie.
“Noudat al hierdie spookstories mense op hol jaag, is ons beslis meer bewus van alles wat deur die dag en nag gebeur.
“Daar was nou die dag ‘n kar hier met mense en blomme wat foto’s neem (waarskynlik vir ‘n matriekafskeid). Gewoonlik sou ek nie eens so iets opgelet het nie, maar nou is ek bewus van alles wat aangaan,” sê Linda.
Die gesin wil die publiek gerusstel dat daar geen bonatuurlike gedoentes by die huis is nie, en doen ’n beroep op mense om nie die huis te besoek of af te neem weens die gerugte nie.
LEES OOK: Busy September at San Michele Home
LEES OOK: Homeless families take shelter at Anzac traffic circle



