AGS Kerk vat hande om dorp se kruise te herstel
Kruise wat jare gelede opgerig is, kry ’n nuwe glans, en die boodskap van geloof en hoop is weer duidelik sigbaar.
Kruise met die bewoording “Brakpan vir/for Jesus” is geen ongewone gesig in die dorp nie.
Hierdie kruise, wat ’n paar meter hoog staan en op strategiese plekke in die dorp geplaas is, was etlike jare gelede ’n gemeenskapsprojek van verskeie rolspelers.
Met verloop van tyd het die kruise verweer geraak en op sommige is die bewoording skaars leesbaar.
“Die gedagte met die oprigting van die kruise was bewusmaking en om ons dorp en die gemeenskap van Brakpan aan God op te dra,” het Pedro Niemand, lidmaat van die AGS Kerk, Brakpan-Wes, verduidelik.

Dit was dan ook juis dié kerk se selgroepe wat gevoel het, die kruise ’n nuwe baadjie moet kry.
“Ons is tans besig met vyf kruise en is in die proses om elkeen oor te verf en ook die bewoording ‘Brakpan vir/for Jesus’ weer aan te bring,” het Niemand verduidelik.
“Ons beoog om ook van die kruise wat nie meer bestaan nie, te vervang met nuwes.
“Saterdagoggend het ongeveer 30 van ons selgroeplede na hulle onderskeie toegekende kruise gegaan om die vernuwing aan te pak.
LEES OOK: Village of Hope prepares for Christmas party, calls for donations
“Die roes is verwyder, die kruise is weer waterpas geanker, vullis om die kruise is verwyder en bome is gesnoei sodat die verfwerk kon begin,” het Niemand verduidelik.
“Nuwe plakkers met die bewoording is gedruk en reeds aangebring waar moontlik. Die reën het die proses ietwat belemmer, maar die oorblywende kruise sal binnekort almal vernuwe word.
“In ’n wêreld van soveel negatiwiteit en hopeloosheid, is daar nog steeds hoop in God, en ons wil graag dié hoop aan mense bekendstel.
“Daar is ook groot dankbaarheid vir al die sellede wat hulle tyd opgeoffer het,” het Niemand bygevoeg.
LEES OOK: Complete Family Clinic gives back with free health checks at local school




