Local newsNews

Die Spookbrug van Heidelberg: Is dit ’n spook of net ’n oogbedrog?

Mense van heinde en verre kom self ervaar hoe stilstaande voertuie skynbaar teen ’n heuwel op beweeg, en hoor die legende van ’n paartjie wat daar tragies gesterf het.

HEIDELBERG – Het jy al gehoor van Heidelberg se spookbrug? Mense van heinde en ver besoek die brug steeds om self die misterieuse ervaring te beleef waar jou stilstaande voertuig eintlik agtertoe behoort te beweeg, maar in plaas daarvan vorentoe teen ’n opdraende beweeg.

As jy dit nog nie beleef het nie en nie bang is vir spoke nie, is dit beslis iets om te oorweeg. Wees egter versigtig en besoek die plek liewer saam met iemand anders om veiligheidsredes.

Die storie agter die spookbrug in Heidelberg
Daar doen gerugte die rondte dat die spookbrug in Heidelberg deur ’n onbekende gedaante beskerm word.

Wanneer ’n voertuig net voor die brug stilhou in die rigting van Heidelberg, net voor die brug oor die N3 strek, sal jy duidelik ‘n heuwel voor jou sien. Daar sit jy jou voertuig af, haal dit uit rat en neem jou voete van die rempedaal af.

Die voertuig sal vanself vorentoe beweeg tot bo die brug, sonder dat die enjin aangeskakel is, in plaas daarvan dat dit eintlik agteruit moet beweeg.

Volgens legendariese stories wat rondgaan, was daar glo ’n tragiese ongeluk op die brug waarin ’n paartjie gesterf het.


‘n Foto van die spookbrug waar voertuie voortentoe beweeg in plaas daarvan om agteruit te beweeg. PHOTO: Eugene Viljoen

Hulle voertuig het op die brug onklaar geraak en is glo deur ’n ander voertuig getref. Oor hoe lank gelede dit gebeur het, bestaan daar geen spesifieke antwoord nie.

Volgens die legende is die paartjie daar om alle voertuie weg te stoot, sodat ander nie dieselfde lot oorkom nie.

Maar soos met alle spookstories, kan hierdie een ook met ’n knippie sout geneem word. Die wetenskaplike verduideliking is dat alhoewel die brug soos ’n opdraande voel, dit eintlik die landskap is wat jou oog bedrieg.

Die beweging van die voertuig word moontlik gemaak omdat dit eintlik op ’n afdraande vorentoe beweeg.

Wat die ware storie is, en of dit wel jou oë is wat jou bedrieg, sal sekerlik ’n besprekingspunt bly. Verskeie mense het al die spookbrug se legende ondersoek, en selfs verskeie internetprogramme is daaroor gemaak.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Eugene Viljoen

I am a person who likes to learn everyday and the more you live the more you learn, I love photography as it tells a story that words can not express. I love sports journalism.

Related Articles

Back to top button