Luister: Boodskap van Hoërskool die Anker se nuwe hoof
Die nuwe hoof, Charles van Rooyen, het net meer as 'n week gelede in die gebied aangekom om die pos in te neem.
Charles van Rooyen (55), ’n nuwe inwoner van Dal Fouche in Springs, is aan die begin van die jaar aangestel as die nuwe hoof van Hoërskool Die Anker.
Hy het slegs etlike dae na sy intrek in Dal Fouche sy pos ingeneem.
Hy het voorheen in Aliwal-Noord gewoon, waar hy vir ses jaar ’n skoolhoof was.
Charles het 22 jaar se ondervinding in die onderwys, waar hy op hoërskoolvlak Afrikaans en Engels aangebied en verskeie sportspanne afgerig het.
Voor dit was hy vir ’n tydperk ’n polisieman, en volgens hom dra dié agtergrond by tot sy vermoë om dissipline effektief toe te pas.
’n Belangrike rede vir sy besluit om die pos aan te neem, is die nabyheid van sy kinders; een in Rustenburg en een in Senekal.
“My grootste dryfveer is my passie vir kinders en sport. Ek rig atletiek, rugby en krieket af, en het jare gelede ’n meisieskrieketspan in Welkom afgerig. Ek het dié meisiespan begin,” vertel hy.
“My visie vir die eerste jaar in die posisie is eenvoudig maar doelgerig – waar leer ernstig opgeneem word, dissipline regverdig en konsekwent toegepas word, en waar elke personeellid en leerder met waardigheid behandel word,” sê hy.
Sy leierskapstyl beskryf hy as deelnemend, wat hy sê baie maklik is om te behou.
“’n Mens moenie, as jy nuut is, dadelik probeer om dinge te verander nie,” verduidelik hy.
“As daar iets is wat aangepas kan word, kry die mense wat betrokke is bymekaar en bespreek dit. Kry hulle insette en beplan daarvolgens,” sê hy.
Volgens Charles is die sterk punte wat hy reeds geïdentifiseer het dat die skool ’n goeie onderwyserspan sowel as sterk leerders het, wat met goeie ontwikkeling net nog sterker kan word.
Aan die ander kant is dissipline iets wat hy voel ’n bietjie strenger toegepas kan word.
“Dit kom seker uit my polisie-agtergrond, maar ek is ’n groot voorstander daarvan,” sê hy.



