Brakpan Rugbyklub is gereed vir nuwe seisoen ná geslaagde oefendag
Die Brakpan Rugbyklub het hul voorbereiding vir die nuwe seisoen volstoom hervat met ’n oefen- en sosiale dag wat die klubgees verder versterk het.
Die bal is aan die rol by die Brakpan Rugbyklub en voorbereiding vir die seisoen is ná ’n blaaskans vir die spelers en bestuur nou weer volstoom aan die gang.
Die klub het Saterdag ’n oefen- en sosiale dag aangebied waartydens spelers, bestuur en ondersteuners bymekaargekom het om die bande binne die klub verder te versterk.
Ná die oefensessies is ’n geesbou-geleentheid aangebied, waartydens al die spelers, asook hul gades en kinders, ’n braaivleis geniet het.
“Die sosiale samehorigheid tussen al die rolspelers van die klub speel ’n belangrike rol in die bou van ’n sterk en verenigde span,” het die voorsitter van die klub, Frikkie Bosman, aan die Herald gesê.

“Die doel van Saterdag se samekoms was nie net ter voorbereiding van die komende seisoen nie, maar ook om die klubgees te versterk en bowenal te wys dat Brakpan Rugbyklub ’n familiegeoriënteerde omgewing bied,” het Bosman bygevoeg.
Intussen is die klub ookbesig om voor te berei vir die Sibanye Super Liga, wat binnekort afskop. Verskeie unies sal mekaar in die kompetisie die stryd aansê, waaronder die Bulle, Leeus, Luiperde, Pumas, Limpopo en Valke.
Brakpan se eerste wedstryd van die seisoen vind op 14 Februarie plaas, wanneer hulle Norham Wolves op eie bodem die stryd sal aansê.

Met die eerste en tweede spanne wat tans bevestig is om deel te neem, sal die eerstespan om 16:00 afskop.
“Ons is tevrede met hoe die voorbereidings tans verloop. Die bestuur, afrigters en spelers werk hard om gereed te wees vir die uitdagings wat voorlê,” het Bosman gesê.
Hy het ook die ondersteuners en die publiek uitgenooi om op 14 Februarie se tuiswedstryd te kom ondersteun.
“Ons is besig om voort te bou op die suksesse wat ons verlede jaar beleef het, maar sonder die getroue ondersteuning van ons ondersteuners sal dit ’n opdraande pad wees,” het Bosman bygevoeg.
LEES OOK: KYK: Laerskool Dalview hou inklokseremonie
LEES OOK: WATCH: Ekurhuleni MMC Andile Mngwevu’s body returned home ahead of funeral



