Mej Stoffie versprei Paasvreugde in die gemeenskap
Hierdie Paasnaweek het die Stoffies nie net geskenke gedeel nie, maar ook warmte, aandag en hoop by die inwoners en kinders gebring.
Die huidige Mej Stoffie, Zané Barnard het onlangs besoek gebring aan die inwoners van die Tweedy Park Kompleks asook die kinders van die East Rand Chrildrens Haven.
Die mede-wenner van Mej Stoffie, Wentlyann Pietersen het haar vergesel.
“Paasnaweek herinner my aan die diep betekenis van liefde, opoffering, hoop en nuwe lewe,” het Zané gesê.
“Dit is ’n tyd waar ons nie net stilstaan by die verhaal van opstanding nie, maar ook self die lig en liefde daarvan uitleef in ons daaglikse dade,” het sy bygevoeg.
Die twee Stoffies het tyd by Tweedy Park deurgebring waar hulle paaseiers aan die inwoners uitgedeel het.
“Dit is wel ‘n klein gebaar maar dit is met groot vreugde en warmte ontvang,” het Zané gesê.
Daarna het Zané ook tyd ingeruim om saam met die kinders van die East Rand Children’s Haven te kuier.
Met inkleurkaartjies, paaseiers en persoonlike boodskappies het sy nie net geskenke uitgedeel nie, maar ook iets baie kosbaarder, naamlik liefde, aandag en vreugde.
“Hierdie dag was vir my ’n pragtige herinnering dat die ware betekenis van Paasnaweek nie net in woorde lê nie, maar in dade van liefde, omgee en gemeenskap,” het Zané die twee besoeke opgesom.




