Jong Dalview redenaars presteer uitstekend in span-afdeling van Interskole
Die jong redenaars het nie net geskitter op die verhoog nie, maar ook bewys dat spanwerk en deursettingsvermoë reeds op ’n jong ouderdom vrugte afwerp.
Vier Graad Twee leerders van die Laerskool Dalview het onlangs geskiedenis gemaak toe hulle die skool se eerste spanredenaarsgroep geword het en boonop met ‘n uitstekende prestasie by die Interskole Redenaarskompetisie vorendag gekom het.
Li-Mae Fourie, Sofia-Belle Smith, Leah van der Westhuizen en Shanique Krugel het nie net die beoordelaars met hul selfvertroue, humor en spanwerk beïndruk nie, maar ook ‘n indrukwekkende 92.5% behaal en daarmee die Dalview-vaandel hoog laat wapper.
Die vier babbelbekkies het vanjaar nie net besluit om individueel aan redenaars deel te neem nie, maar ook saam as ‘n span.
Dit het baie harde werk, toewyding en deursettingsvermoë geverg, maar deur alles het hulle as ‘n hegte span saam gegroei.

Toe die geleentheid aanbreek om hul talente te wys, het hierdie vier jong redenaars die uitdaging met albei hande aangegryp.
Verlede naweek het hulle Laerskool Dalview met trots in die span-afdeling van die Interskole Redenaarskompetisie verteenwoordig en uitstekende resultate behaal.
Dit is ook die eerste keer in die geskiedenis van Laerskool Dalview dat spanredenaars aangepak is. Natuurlik is al vier se ouers baie trots op hul kinders, en dit was veral die beoordelaars se kommentaar wat vir hulle uitgestaan het.
Volgens een van die ouers is die jong deelnemers geprys vir hul “uitstekende samewerking”; iets wat een van Dalview se kernwaardes mooi weerspieël.
LEES OOK: VIDEO EN FOTO’S: Brakpan-Oos herdenk 90ste bestaansjaar
“Ons vier kinders het saam ‘n indrukwekkende punt van 92.5% behaal en het waarlik as trotse Dalwers die skool se naam hoog gehou,” het die ouer gesê.
“Ons is ongelooflik trots op hul prestasie, maar nog meer op die manier waarop hulle mekaar ondersteun het en as span saam geskitter het,” het die ouer bygevoeg.
Die tema wat die vier aangepak het, was: “As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir ‘n dame in Graad Twee.”
Die praatjie was vol humor, energie en selfvertroue, maar het terselfdertyd ‘n mooi boodskap oorgedra oor verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en spanwerk.
Die ouers het ook die skool en personeel bedank vir hul rol in die ontwikkeling van selfvertroue, spanwerk en leierskap by hul kinders van ‘n jong ouderdom af.
LEES OOK: Underreporting crime hampers policing efforts in Brakpan



