Carla maak naam in Los Angeles
'Toe hulle die trofee in my hande sit, wou ek sommer net huil.'
Met haar medaljes om haar nek en ‘n wêreldtitel agter haar naam, is Brakpan se Carla Schönfeldt verlede Woensdag deur mede-leerders van haar skool terug verwelkom op die OR Tambo Lughawe.
Die talentvolle 14-jarige het op 18 Julie saam met die Suid-Afrikaanse groep, wat uit 80 bestaan het, na Los Angeles vertrek om aan die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste deel te neem.
Sy het die titel van Grand Champion of the World Junior Acting ingepalm. Tydens die kampioenskappe was Carla die Suid-Afrikaner met die meeste items op haar kerfstok.
Sy het op 25 en 26 Julie aan ‘n totaal van 17 items deelgeneem.
“Ons het omtrent op en af gehardloop maar dit was alles die moeite werd,” het haar ma Lilani Potgieter aan die Herald vertel.
Tydens die twee dae het Carla aan drie model items, drie dans items en 11 drama stukke deelgeneem.
Vir model het sy een goue medalje verower, vir dans een silver en twee brons en met haar dramastukke het sy vier goue en ses silwer medaljes in haar sak gesteek.
Vir elke goue medalje het sy een algehele toekenning ontvang. Dus het sy met vyf algehele toekennings weggestap vir items soos solo classical acting, solo-TV acting, solo acting open en vir spokesmodel.
Op die finale aand van 28 Julie is Carla as Female Grand Champion of the World Junior Acting aangekondig.
Haar duet maat, Ruanco Ueckermann, was as die Male Grand Champion of the World Junior Acting aangewys.
“Ek het baie groot geskrik toe hulle ons name uitroep,” het Carla gesê.
“Toe hulle die trofee in my hande sit, wou ek sommer net huil.”
“Dit was baie spesiaal toe sy die toekenning wen. Dit was lekker om te sien dat al die harde werk vrugte afgewerp het,” het ‘n emosionele Lilani vertel.
Carla is al van ‘n jong ouderdom af deel van CJC Drama Ateljee en sy vertel dat dit vir haar maklik is om in haar karakters te kom.
Die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste het vanaf 22 tot 30 Julie in Anaheim plaasgevind waar Carla teen 66 ander lande meegeding het.
Na afloop van die wêreldkampioenskappe het New York Film Akademie vir Carla ‘n beurs aangebied om in Julie 2023 ‘n ses-week-lange program by te woon.
“Dit is ‘n ongelooflike eer, ek sal baie graag wil gaan. Ek dink ek sal baie kan leer,” het sy gesê.
Carla is tans ‘n Graad Nege leerder aan Hoërskool Stoffberg. Die skoolhoof, Pieter de Bruin vertel dat hy baie trots op haar is.
“Sy het ons land en skool internasionaal verteenwoordig. Ons is trots om Carla ‘n ware Stoffie te noem want sy leef ons leuse `Van krag tot krag’ op alle gebiede uit,” het de Bruin gesê.
Tydens hul tyd in Los Angeles het hulle die geleentheid gekry om plekke soos Disney World, Universal Studios, Hollywood asook Madame Tussaud te besoek.
Carla sê Universal Studios het vir haar uitgestaan en dat sy elke oomblik daar geniet het.
Toe sy verlede Woensdag op die OR Tambo lughawe land het daar reeds ‘n magdom mense gereed gestaan om haar te verwelkom.
‘n Groep van Stoffberg se leerders het haar ingewag met ‘n groot banier, ‘n bos blomme en baie breë glimlagte.
“Dit was baie spesiaal, ek het sommer dadelik begin huil,” het Carla gesê.
Lilani sê die volgende stap is om vir Carla ‘n agent aan te stel sodat sy haar naam behoorlik daar buite kan kry.




