Drie Anker tonele op die planke by Allegretto fees
Hoërskool Die Anker se talentvolle toneelspan is gereed om gehore met drie uiteenlopende produksies te beïndruk wanneer hulle aan die Allegretto Toneelfees deelneem.
Hoërskool Die Anker se toneelspan is opgewonde om hierdie jaar weer aan die Allegretto Toneelfees, wat gedurende Julie plaasvind, deel te neem.
Die 2026 toneelspan, wat bestaan uit 18 leerders tussen Graad agt en 12, word afgerig deur Manie Le Corrè. Manie is ook die skrywer en regisseur van al drie tonele wat hierdie jaar op die planke gebring word.
Die toneelstukke is:
- Tromos: Die toneel volg ’n groep matrikulante wat besluit om ’n nag in ’n berugte hospitaal deur te bring om die waarheid agter plaaslike “spookstories” te toets.
Wat begin as ’n adrenalien gevulde avontuur, ontaard in paranoia, uitputting en doodsangs wanneer ’n skrikwekkende figuur, Tromos, een vir een op hulle toesak. - Sagte Hare: Wat gebeur wanneer die alledaagse dorpsalon ‘n skouspel vol stories, skinder en skreeusnaakse oomblikke word? Sagte Hare neem jou presies daarheen.
“Hierdie produksie laat die gehoor lag, meeleef en selfs effens bloos, terwyl jy Magda, Suzie, Jodi en hul kleurvolle span volg tydens ’n dag vol trouvoorbereidings, tieners se drama en die een-of-andere dorpsgeheimpie wat nie lank geheim bly nie,” sê Elsa Botha.
- Vuil van die Lewe: “Met hul aangrypende produksie Vuil van die Lewe, neem hierdie jong akteurs die gehoor op ’n rou emosionele reis deur verlies, verslawing, skuld en vergifnis,” sê Elsa.
Hoërskool Die Anker se Toneelspan nooi graag die gemeenskap en alle kultuur liefhebbers uit om hierdie produksies op die verhoog te sien by die Allegretto Toneelfees.
Op 20 Julie word Tromos opgevoer terwyl Sagte Hare en Vuil van die Lewe op 27 Julie op die planke sal wees. Die Allegretto Toneelfees vind by die Springs Teater plaas. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Quicket.
Op 20 Augustus gaan hierdie span ook deelnaam aan die Gauteng Streekfees van die ATKV Tienertoneel
Kompetisie wat in Pretoria by die UNISA Little Theatre plaasvind.
Vir navrae oor kaartjie verkope kan Allegretto Toneelfees sowel as die ATKV Tienertoneel fees se sosiale media platvorms dopgehou word.
ALSO CHECK: Brakpan detective unit tops national rankings as commander retires
ALSO CHECK: Work underway to repair collapsed stormwater system in Brenthurst park



