BRIEF: Vloekery en rusie bederf Dalview-gesin se rugbydag
'n Dalview-gesin sê hul rugby-uitstappie na 'n plaaslike kuierplek het in teleurstelling geëindig nadat aanhoudende gevloek en 'n argument tussen gaste hul ervaring bederf het.
Terleurgestelde inwoner van Dalview skryf per e-pos:
Ek en my man het twee tienerseuns en ons het Saterdag ‘n keuse gemaak om die rugby by ‘n kuierplek in ‘n naburige dorp te gaan kyk.
Gewoonlik kyk ons maar saam as ‘n gesin by die huis of saam met vriende by iemand se huis, maar hierdie Saterdag was ons lus om uit te gaan.
Grootste fout van ons lewe. Ons is nie regtig drinkers nie. My man het ‘n bier saam met sy ete gedrink en ek het ‘n glasie wyn gedrink.
Daarna het ons oorgeskakel na koeldrank aangesien my man nog moes terugbestuur na ons huis.
Langs ons het ‘n groep mense gesit wat so gevloek het dat ons lus was om halftyd liewer maar te ry.
(Ons seuns het ons omgepraat om te bly.)
LEES OOK: Gun violence claims another life in Reiger Park
Daar was jong kinders in die groep en ‘n bejaarde man van seker so 80 jaar.
Ons is nie preuts nie en geniet ook die rugby en die lewe, maar om heeltyd die p-woord en ander vieslike woorde te hoor, was nie aangenaam nie.
Het die mense dan nie respek vir ander nie?
Uit die kyke wat ander mense hulle ook gegee het, weet ek dit was nie net ons wat ongemaklik was nie.
Teen die einde van die wedstryd het die groep onder mekaar begin stry en toe het dit eers wild gegaan.
Voortaan kyk ons maar liewer die rugby by ons huis of by vriende waar daar respek vir mekaar is.
LEES OOK: Residents concerned development could endanger Korsman’s delicate biodiversity



