Brakpan Rugbyklub mik na geskiedkundige driedubbele titeloes
Brakpan Rugbyklub se eerste-, tweede- en o21-spanne is Saterdag op Bosmanstadion in aksie wanneer hulle om Peregrine-ligtitels meeding.
Brakpan Rugbyklub staan op die drumpel van ’n geskiedkundige rugbydag wanneer al drie sy spanne op 15 Augustus in die Peregrine-ligafinale op Bosman Stadion om titels meeding.
Die klub se eerste-, tweede- en o21-spanne het hul plekke in die eindstryde beklink en mik nou na ‘n moontlike driedubbele titeloes.
Brakpan se eerste- en o21-spanne pak Vereeniging, terwyl die tweede span teen Springs te staan kom.
Hoewel die eindstryde die hoogtepunt van die dag sal wees, kan rugbyliefhebbers en besoekers uitsien na ’n volgepakte rugbydag met verskeie aktiwiteite vir oud en jonk.
Die voorsitter van Brakpan Rugbyklub, Frikkie Bosman, het rugbyliefhebbers en ondersteuners aangemoedig om in groot getalle op te daag en die spanne te ondersteun.
ALSO READ: Brakpan SPCA launches weekly outreach campaign
“Omdat die ontwikkeling van jeugrugby vir ons belangrik is, nooi ons ook jonger geesdriftiges uit,” het hy gesê.
“Alle junior spanne en skoolleerders word genooi om die wedstryde by te woon en hul ondersteuning vir Brakpan se spanne te wys.”
Daar is ook verskeie spesiale aanbiedinge vir jong ondersteuners.
Skole word aangemoedig om in groot getalle en in skooluniform op te daag, met ’n R5 000 kontantprys wat op die spel is vir die skool met die beste ondersteuning.
ALSO READ: Brakpan rugby talent selected for international tournament
Die eerste 200 skoolleerders ontvang ’n gratis T-hemp en koeldrank. Junior spelers en leerders wat in Brakpan Rugbyklub-truie opdaag, kry ook gratis toegang.
Jong rugbyliefhebbers kan ook uitsien na ’n mini-wedstryd, waartydens balle weggegee sal word, terwyl Hoërskool Die Anker se pom-pom groep tydens rustyd van die eerste span se wedstryd in aksie sal wees.
“Die doel van die dag is om nie net rugby te vier nie, maar ook om iets positiefs aan die gemeenskap terug te gee en jongmense by die sport te betrek,” het Bosman gesê.
Die o21-finaal skop om 13:00 af, gevolg deur die tweede-span se wedstryd om 14:30. Die eerste-span se finaal begin om 16:00.
Toegang beloop R20 per persoon of R30 per voertuig. Geen koelhouers word toegelaat nie.



