Ma maak hart oop na verlies van seun
Die seun was lief vir sy mense en het altyd ander se dae probeer ophelder.
Die ma van ‘n 19-jarige, geliefde jong man en leerder van die dorp het haar hart oopgemaak ná haar seun se afsterwe; ‘n verlies wat sy gesin, familie, medeleerders en vriende diep geskok het en ‘n groot leemte laat.
Ina Marais (46) hoop dat haar woorde hul weg sal vind na dié wat dit nodig het en moontlik ook vir ander wat deur verlies worstel, ‘n boodskap van hoop, troos en berusting sal bring.
Francois Marais (19) is op 25 Augustus 2007 in die destydste St Mary’s Hospitaal in Springs gebore. Bekend as ‘Ma se kind’, ‘Ouboet’ en deur sy skoolmaats as ‘Frenchy’ is hy op 22 September oorlede.
“Daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig, besig om dié om hom se dag te verhelder met sy unieke mens wees, en as ‘n kamera in sy rigting sou wys, sou hy sy spiere bult en houding in neem om te po¬seer,” vertel Ina.

“Hy was lief vir sy ma, lief vir sy mense en was nooit skaam gewees om te sê ‘lief vir jou’ nie.”
Op vier-jarige ouderdom, is sy pa, Francois Marais (26), tydens ‘n huisroof van die gesin weggeruk.
“Ek en sy broers Markus (18) en Konraad (17), het ons lewens saam herbou die afgelope 15 jaar. Maar die 15 jaar wat gevolg het was nie altyd vir Francois maklik nie.
“Min het ander geweet van die konstante kontrasterende worsteling en vrae wat hy in sy gedagtes beleef het,” het Ina verduidelik.
“’Ek is geliefd, maar is ek liefde werd?’, ‘Ek is sterk, maar is ek sterk genoeg?’, en ‘Ek sal enigiets kan aanpak in die lewe, maar is ek goed genoeg om ‘n sukses daarvan te maak?’ is van die vrae waarmee hy dikwels geworstel het.

“Hy sou stil word, dit deur worstel, en dan sou hy weer die lig sien en ophelder. Hy het die Here diep geken en kon bid soos min sy gelyke,” vertel sy,” vertel Ina.
As deel van sy sosiale profiel was die vers gelys: Romeine 8:18 “Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.”
“Op 22 September 2026, het hy sy worstelende gedagtes, moontlik in ‘n impulsiewe oomblik, vir ewig stil gemaak,” het Ina gesê.
“Sy afsterwe los die wat hom ken in skok en vrae wat onbeantwoord sal bly. Geestesgesondheid is nie ‘n uiterlike wond wat altyd gesien kan word nie, en party kan dit baie diep wegsteek waar niemand anders toegelaat word nie.

“Daarom is dit belangrik dat ons met mekaar daaroor praat. Ons moet onsself daagliks in die oë kyk en herinner dat daar altyd hoop is. God maak nie foute nie, en jy is geskape met ‘n doel. Eer en verheerlik Hom.
“Jy is soveel meer werd as net genoeg. Jy hoef nie alles alleen te dra nie. Praat wanneer jy worstel, en weet jy is geliefd.”
In Engels, wat vir Ina mooier is as die Afrikaans, sê Romeine 8:18 “I consider that our present sufferings are not worth comparing with the glory that will be revealed to us.”
Francois se gedenkdiens vind Donderdag, 8 Oktober plaas om 14:00 vanuit die Dalpark Kaléo Gemeente.
- Persone wat emosionele ondersteuning benodig, of bekommerd is oor iemand na aan hulle, kan hulp by SADAG se noodhulplyn by 0800 567 567 of LifeLine se nasionale beradingshulplyn by 0861 322 322 kry.



