BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Leer ken Leila Laranja.

Leila Laranja is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Die lewenslustige graad sewe leerder woon saam met haar ma, Claudia Nair, en jonger suster, Anastacia (11), in Minnebron.

· Jy is vanjaar die hoofmeisie van die Laerskool Dalview. Wat beteken dit vir jou?

Dit is vir my ‘n groot voorreg om ‘n wonderlike skool soos die Laerskool Dalview te kan lei deur die jaar 2017. Dit is ook vir my ‘n ongelooflike ervaring om die skool te ondersteun en op te bou na die beste van my vermoë.

· Wat is jou pligte as hoofmeisie van die skool?

Die pligte van die hoofdogter is baie belangrik en ek beskou dit nie ligtelik nie. Dit sluit onder andere die volgende in: Die skool moet in ‘n goeie toestand gehou word. Ek moet die personeel, mede-leerders en my span leiers help met alles wat ek kan. ‘n Baie belangrike plig is om die skool se naam en reputasie hoog te hou en te alle tye op te bou.

· Daar lê nog ‘n lang en besige jaar voor jou. Hoe hanteer jy uitdagings?

Ek stel baie hoë standaarde vir myself en ek probeer altyd om alle take en opdragte wat aan my toevertrou word, tot die beste van my vermoë uit te voer.

· Hoe maak jy wanneer dinge rêrig skeefloop?

Ek vra die Heer om vir my krag te gee, want ek glo jy kan enigiets doen met Hom aan jou sy. My komitee (die leiergroep) ondersteun en help my ook baie en daarvoor is ek baie dankbaar.

· Watter vak geniet jy die meeste en hoekom?

My gunsteling vak is beslis geskiedenis, want ek hou daarvan om van die verlede te leer; hoe die wêreld gewerk het. Die vak verbeter ook my algemene kennis.

· Watter vak hou jy nie so baie van nie?

Ek hou nie so baie van kuns nie, omdat ek nie so goed is met tekeninge en sketse nie.

· Beoefen jy sport by die skool?

Ja, ek doen graag sport. Dit is nog altyd ‘n stukkie van my lewe en ek sal graag in die hoërskool meer op atletiek wil konsentreer.

· Wat is jou stokperdjies?

Ek geniet dit om te stap, musiek te luister en dit is vir my lekker om tyd saam met my familie deur te bring.

· Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?

Dit is my droom om eendag ‘n baie suksesvolle brein- of hartchirurg te word.

· Waar is jou gunsteling vakansiebestemming en hoekom?

Ek is mal oor ‘n see vakansie. Die see is asemrowend en die atmosfeer is onbeskryflik.

· Dink jy jong kinders van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone?

Ja, ek dink so. Die lewe is so gejaag en ouers van kinders is altyd besig. Ek dink dit is noodsaaklik dat ouers en kinders ‘n punt daarvan maak om meer aandag aan mekaar te gee en tyd vir mekaar te maak.

· Wat laat jou lekker lag?

Om te lag is gesond. Ek geniet dit sommer om saam met my vriende te lag – dit is ‘n fantastiese ding om te doen.

· Wat maak jou bang?

Ek is nogal bietjie bang vir die donderweer en om alleen in die donker te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button