Esmé Strauss (48) is aan die stuur van sake by Solidariteit Helpende Hand se Brakpan tak. Sy woon in Sonneveld Estates en het drie kinders, Suzette (18) asook Quentin en Clinton (26).
• Hoe lank is jy al betrokke by Solidariteit Helpende Hand?
Ek is al vir ‘n klompie jare as lid ingeskryf by Helpende Hand maar het twee jaar gelede aktief betrokke geraak toe ek ‘n vergadering bygewoon het en as voorsitter verkies is op ‘n takstigtings vergadering.
• Wat het jou laat besluit om by die organisasie betrokke te raak?
Ek het ‘n passie vir mense, en is een honderd persent ‘n “mense mens”. Wat my aangetrek het tot Helpende Hand was ook die feit dat daar soveel projekte aangebied word wat fokus op ons jong mense soos onder andere, studiebeurse en studie geleenthede, waarvan die gemeenskap nie eens weet nie.
• Wat is die uitdagings?
Die grootste uitdaging wat ons het, is om by te dra tot die verbreking van armoede in ons gemeenskap. Dit sluit “geestelike armoede” in en nie net fisiese armoede nie. Wanneer ‘n persoon eers in ‘n groef verval het waarin hy/sy nie vir ‘n gesin kan sorg nie en byvoorbeeld op straat bly, is dit vir ons ‘n groot uitdaging om so ‘n gesin weer “op te tel” en hul lewens te verbeter.
• Hoe kan hierdie uitdagings oorkom word?
Beslis om meer geleenthede te skep, soos werkskepping en studie geleenthede aan matrikulante, ens.
• Hoe kan mense betrokke raak en help?
Elke tak funksioneer onafhanklik en fondsinsameling geskied op tak vlak. Deur aktief betrokke te raak by ‘n projek word die fondse wat genereer word weer aangewend om hulp te verleen by die verf van ‘n sorgsentrum, ens. Vrywilligers kan ook ‘n maandelikse bydrae lewer van slegs R50 wat net so na die tak toe terugkom om aktiwiteite en projekte te befonds. Ons het ook ‘n dringende nood vir nie-bederfbare voedsel omdat ons vir baie gesinne voorsien van “nood pakkies”. Dit is nie Helpdende Hand se doel om op ‘n permanente basis persone van kos te voorsien nie, maar verlig onmiddellike nood deur middel van die voorsiening van basiese produkte soos mieliemeel, suiker, ens.
• Het jy ‘n voltydse beroep en wat behels dit?
Ek is voltyds in diens as ‘n Menslike Hulpbron Bestuurder en het ‘n groot verantwoordelikheid om na die welstand van die werknemers sowel as die werkgewer om te sien. In die tyd waarin ons lewe is dit ‘n stryd om oorlewing en ek kan nie genoeg aan my werknemers beklemtoon oor hoe belangrik dit is om hul werk op te pas nie.
• Waarvoor sal jy jouself onmiddellik vererg?
Ek word nie sommer kwaad nie, maar mense wat openlik vir my lieg of my integriteit onderskat laat my warm onder die kraag. Ongelukkig is daar baie tipe mense daar buite en almal se agenda is nie altyd eerlik nie. Dit ontstel my byvoorbeeld baie as ek moet uitvind mense vra vir ‘n kospakkie vir honger kinders maar dan moet ek hoor dit word geruil vir drank – dit is baie onregverdig, nie net teenoor my nie maar ook teenoor die volgende persoon wat dit regtig nodig het.
• Wat sal jou lekker laat lag?
Ek kan die humor in bykans enige situasie sien en lag maklik. My gemoed helder sommer op veral as ek sien hoe mense wat al ingedoen was deur die lewe steeds die positiewe raaksien.
• Wat sal ‘n mens altyd in jou handsak kry?
My “Labello lip ice” – ek is verlore daarsonder.
• Jou gunsteling televisieprogram?
Ek is ‘n adrenalien “junkie” so as ek tyd kry vir televisie kyk geniet ek ‘n goeie aksie fliek of “extreme sport” program.
Lees ook: Brakpan Helpende Hand reik uit
Volg ons: