Rooi is een vir die toekoms
Cameron Rooi (18), ‘n leerder aan Hoërskool Die Anker, is ‘n rugbyspeler met baie potensiaal.
Die graad 11-leerder is die enigste rugbyspeler van ‘n Brakpan skool wat vir die Valke Craven Weekspan gekies is.
Rooi het in dié jaar se Craven Week, wat vanaf 7 tot 13 Julie in Polokwane, Limpopo, plaasgevind het, in twee wedstryde vir die Valkespan gespeel.
“Dit was baie lekker om tydens die 50ste bestaansjaar van Craven Week te speel, en vir my was dit nogal ‘n groot geleentheid en eer,” sê die jong speler.
“Dit is ‘n erfenis wat ek agter kan laat.”
Die binnesenter het in sy eerste wedstryd teen die Griffons ‘n drie gedruk, en het op flank gespeel in die Valke se derde wedstryd, teen die EP Kings.
Hy het nie in die tweede wedstryd, teen die Griquas, gespeel nie.
“Dit was nog altyd ‘n droom van my om Craven Weekrugby te speel en dit was lekker om rugbyspelers van regoor die land te ontmoet en saam te speel,” sê hy.
“Ek het ‘n uitstekende afrigter, Rocky Truter, wat my elke dag motiveer en baie help op die rugbyveld.”
Die voormalige Laerskool Brakpan-Oos leerder het ook gesê dat hy ‘n kontrak by die Leeus op die ouderdom van 15 gekry het, en hy sien daarna uit om vir die Leeus se o-19-span te speel.
“Ek het baie hard gewerk om hier te wees en ek is dankbaar vir my familie en vriende wat altyd by my staan,”sê Rooi.
Sy rugby helde is Bryan Habana en Sonny Bill Williams.