Fees vir oud en jonk om te geniet
Verskeie kunstenaars, onder andere Francois van Coke, Theuns Jordaan en Leah, sal oor die drie dae optree.
Maak seker dat hierdie familie en buitelug fees in jou dagboek aangeteken is, of doen dit dadelik as jy dit nie reeds gedoen het nie.
Klipkoppiefees 2016 beloof om selfs groter te wees en met meer aktiwiteite as verlede jaar, en vind weereens op die Meyerplaas, Foreststraat, Alberton, plaas.
Die feestelikheid begin op Vrydagmiddag, 27 Mei, met verskeie aktiwiteite vir oud en jonk en word afgesluit op Sondag, 29 Mei, met ‘n Gospelfees. Verskeie kunstenaars, onder andere Francois van Coke, Theuns Jordaan en Leah, sal ook oor die drie dae optree.
Die aktiwiteite sluit in ou gunstelinge, asook ‘n klompie nuwe toevoegings.
Van die ou gunstelinge, op Saterdag, 28 Mei, sluit in die 4×4 skattejag, aangebied deur Francois Rossouw (RSG 4×4 Klub), asook die pretloop wat aangebied word deur die CMR (Christelike Maatskaplike Raad), Alberton.
Arnold Venter, van Ironman South, bied ook ‘n 4×4 hindernisbaan aan, op al die feesdae.
Op aanvraag uit verskeie oorde het die organiseerders ook besluit om die bergfietswedren weereens dié jaar aan te bied, op Saterdagoggend, 28 Mei.
Kinders en tieners sal andersins ook heelwat vind om hulself mee besig te hou, met ou gunstelinge soos die pretpark en windgeweerskietbaan.
Nuwe byvoegings vir die jonges van gees is die “Paintball” in die bos, asook die mallemeule.
Ander aktiwiteite op die feesterrein sluit in die kunsmark, groot uitstallers, kosstalletjies, ”watergate”, gourmet- en voedseldemonstrasie tente.
Daar is nog beperkte spasie beskikbaar vir uitstallers in die kunsmark area. Belangstellendes moet so spoedig moontlik reageer ten einde teleurstelling te voorkom.
Vir verdere inligting, inskrywings, toegangspryse en kaartjieverkope, besoek die Klipkoppiefees gerus op Facebook en Twitter, of by die webtuiste www.klipkoppiefees.co.za



