Kat by winkel se bakkery met knuppel dood geslaan
‘n Werknemer van Shoprite Checkers het Saterdag glo ‘n kat, ten aanskoue van die publiek, met ‘n knuppel doodgeslaan

Die voorval het ‘n 12-jarige kind so ontstel dat haar ouers haar vir berading moes neem.
‘n Inwoner van die dorp, Anton Willemse (43) is na bewering ook deur ‘n sekuriteitsbeamptes aangerand, sowel as die persoon wat na bewering die kat dood geslaan het.
Volgens Willemse was hy, sy vrou Michelle (43) en hul dogter Kally-Ann (12) ongeveer 11vm in Shoprite.
“Ek het gesien hoe ‘n werknemer en ander personeel ‘n kat in die rak, waar die suiker is, verjaag,” het Willemse gesê.
“My vrou het vir my gesê ek moet gaan kyk dat die mense nie die kat seermaak nie, want die dier was erg verboureerd.”
Naby die bakkery het Willemse gesien hoe die werknemer die kat met ‘n knuppel slaan.
“Ek het die man weggetrek waarna hy my met die knuppel oor die arm geslaan het,” het Willemse gesê.
Volgens hom het ‘n sekuriteitsbeampte bygekom en hom weggestoot.
“Op dié stadium het die werknemer voortgegaan om die kat te slaan.”
“Ek kon nie net daar staan en kyk nie en ek het die man weer genader en hom weggestamp. Die keer is ek met ‘n knuppel oor die been geslaan.”
“My vrou het intussen die DBV en die Brakpan SAPD gekontak en ek het gepoog om foto’s van die kat, wat toe leweloos was, te neem.”
“Ek is toe deur die sekuriteitsbeampte teen die kop geslaan en hy het my foon uit my hand geklap. Die raam van my bril het ook gebuig.”
Volgens Willemse het hy en sy gesin gewag vir die SAPD en DBV om op te daag en in dié tyd is die kat verwyder.
“Toe die DBV daar aankom het niemand kamstig geweet waar die kat is nie.”
“’n Bestuurder het, volgens Willemse, daarop aangedring dat die kat gehaal word en dit is aan die DBV oorhandig,” het hy bygevoeg.
‘n Klag van aanranding is kort daarna by die Brakpan SAPD teen Willemse geopen.
“Ek het niemand aangerand nie, ek het ‘n hulpelose dier probeer beskerm.”
Willemse het gesê dat sy dogter die hele voorval aanskou het en naby aan histeries was. Ons het haar intussen vir berading geneem.
Die DBV het bevestig dat ‘n klag van dieremishandeling teen een persoon aanhandig gemaak sal word en dat die kat ‘n outopsie by ‘n veearts sal ondergaan.
Die Herald het Shoprite Checkers oor die voorval genader. Die volgende kommentaar is ontvang:
Shoprite veroordeel die gedrag van ‘n werknemer en het ook die sekuriteitsbeamptes, wat by die voorval betrokke was, gekontak.
Die voorval word ondersoek en dissiplinêre stappe sal teen die werknemer van Shoprite geneem word en dieselfde sal verwag word van die sekuriteitsbeamptes se werkgewers.
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)
BBM pin: 7F7A9F13



