Local newsNews

Aftrede wink Sonneveld Akademie hoof nader

Die 62-jarige skoolhoof het sy loopbaan as rekeningkunde onnie begin, en was die laaste 10 jaar die hoof van die skool.

Vir Steven Weber (62) kom ’n lang en betekenisvolle loopbaan in die onderwys einde Mei tot ’n einde wanneer hy as hoof van Sonneveld Akademie aftree.

Hy het sy BCom-graad aan die destydse RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) verwerf, waarna hy vir vyf jaar by Hoërskool John Vorster in Heidelberg rekeningkunde aangebied het.

Ná sy begin in die onderwys het hy vir 27 jaar as rekenmeester vir die Brakpan Stadsraad gewerk, as ouditeur en later as hoof finansiële beampte.

In 2012 het hy besluit om terug te keer na die onderwys, en sedert 2016 is hy as hoof by Sonneveld Akademie betrokke.

Sy vrou, Jane Weber (62), was ook vir 40 jaar in die onderwys as Graad 1-onderwyser. Vir die afgelope 10 jaar was sy ook ’n onderwyser by Sonneveld Akademie.


LEES OOK: Free matric toolkit helps class of 2026 prepare for finals


Die egpaar se oudste seun van twee, ook Steven Weber (36), werk in die VSA as elektriese ingenieur, en die ander een, Wihan Weber (33), doen internasionale handel vanuit Pretoria.

Steven sê hy is geïnspireer om ’n loopbaan in die onderwys te volg deur ’n onderwyser, Manie Janse van Rensburg, by wie hy in 1970 klas gehad het en wat ook ’n rekeningkunde-onderwyser was.

“Hy het vir my die liefde vir die vak en die professie gegee. ’n Mens kom by ’n punt waar die verskil wat jy wil maak nog groter raak, en vanuit die hoof se stoel gee dit jou die vermoë om jou visie ’n werklikheid te maak,” verduidelik hy.

Volgens Steven het die onderwys baie verander sedert hy in die loopbaan begin het.

“Die kurrikulum verander, kinders dra meer verantwoordelikhede en blootstelling, en die rol van ouers in hul kinders se onderrig het baie groter geword,” sê hy.

Die grootste les wat hy deur die jare geleer het, is om baie geduld te hê.

“Dit, en hoe kosbaar elke kind eintlik is, en om te weet jy werk met die mees kosbare van mense. Hulle word aan jou toevertrou en jy dra daardie verantwoordelikheid,” sê hy.

’n Leerder wat vir hom uitgestaan het, is een wat hy in 2013 gehad het, wat sy enigste rekeningkunde-leerling was, met wie hy ’n hegte band gebou het.

Aanvanklik wou sy ’n veearts word, maar sy het uiteindelik ’n geoktrooieerde rekenmeester geword.
Vir Steven was daar baie dae wat hy gevoel het: “Dis hoekom ek hierdie werk doen.”

“Wanneer ’n kind voor jou staan en jy kan sien dat hy jou nodig het, gee dit jou die geleentheid om op daardie manier ’n plaasvervangende ouer te wees. As jy by die terrein instap, is ek jou pa tot jy weer uitstap.

“Indien die kantoorwerk soms te veel raak, stap ek net uit en gaan stap tussen die kinders, dan kom jy as ’n nuwe mens terug in die kantoor,” verduidelik hy.

Die aspekte waarop Steven die trotsste is by Sonneveld Akademie is die leerders, maar ook die onderwysers.

“Ouers besef nie altyd wat ’n onderwyser opoffer en insit nie. Dit is regtig mense wat die ekstra myl loop. Hulle is almal omgee-mense en doen dit met soveel liefde en passie,” het hy gesê.


LEES OOK: Brakpan SPCA rolls out major clearance sale ahead of thrift shop move


Volgens Steven was een van sy grootste uitdagings om die finansies van die skool te bestuur en ouers te motiveer om verpligtinge na te kom, maar hy sê hulle wen dit altyd tog.

“Die kultuur van die skool is soos een groot huisgesin. Ons gee om vir mekaar, en soos ’n ouer eens gesê het, dis soos tuisonderrig weg van die huis af.

“Wat die skool vir my besonders maak, is die omgee en liefde vir die kinders. Omdat die klasse baie klein is, geniet elke kind persoonlike aandag.

“Ek het altyd probeer om leerders en onderwysers te inspireer om omgee-mense te wees en ’n gevoel van geborgenheid by die skool te skep. Dis nie altyd maklik nie, maar dit is die belangrikste.”

Sy gunsteling skooltradisie is die jaarlikse skoolfees, veral hoe almal saamwerk aan die voorbereiding en die opruiming daarna.

Hy gaan die meeste die kinders se glimlagte mis, en die minste diegene wat nie begrip en waardering toon vir die werk wat onderwysers verrig nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button