Brakpan VLU kry kundige raad oor kruie en hul gebruike by vergadering
Wenke van plant tot pesbeheer en sorg is met die vroue gedeel voor die maandelikse vergadering.
Ruan Bosman van die Brakpan Garden Centre het tydens die mees onlangse vergadering van die Brakpan-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) gekuier om sy kennis oor kruie en die gebruike daarvan te deel.
“Basies het ’n mens net vyf kruieplantjies in omtrent ’n vierkante meter nodig,” het hy verduidelik.
“Die essensiële olies in kruie is baie sterk, so mens het nie veel nodig nie. Net een lourierblaar is genoeg vir ’n hele gereg.”
Hy het voorts uitgebrei dat sommige kruie smaak bied, terwyl ander bloot as versiering op ’n gereg dien.
ALSO READ: WATCH: East Rand Children’s Haven faces closure amid delayed government subsidy payments
Sommige kruie het ook beperkte medisinale gebruike, volgens Ruan, maar hy sê feite soos dat sekere plante peste afweer, soos muskiete, is ’n bietjie van ’n mite.
“Om die peste af te skrik, moet ’n mens eintlik die plant aanhoudend kneus om die reuk vry te laat, maar as mens dit doen, kan die plant nie lank oorleef nie. Dit sal dus nie die moeite werd wees nie,” het hy gesê.
Volgens Ruan verkies die meeste kruie volson vir die hele dag en aard hulle nie goed binnenshuis nie. Kruie benodig ook pesbeheer en bemesting om groot, gesonde en geurige plante op te lewer.
Na Ruan se voorlegging het die vroue met formaliteite begin en gehoor dat daar op 4 Junie ’n streeksvergadering by die Le Fleur-tak plaasvind.

Op 13 Junie vind die Goudrif-streek se “sing-along”-fondsinsameling in Norton Park plaas, waarvan die fondse vir liefdadigheid en projekte soos die VLU-studiebeurs aangewend sal word.
Die kongres vind op 26 en 27 Augustus plaas, en by volgende maand se vergadering, op 9 Junie, gaan Ronel du Plessis van Jasmyn een van die artikels vir die kongres, ’n knip-en-stik-item, demonstreer.
Op 31 Mei bak die vroue weer pannekoek by die Just Wheels-opedag.
Vroue wat graag by die VLU wil aansluit om kreatief verkeer, vriendskappe te bou en nuwe dinge te leer, kan die takvoorsitter, Delores van Rooyen, by 083 785 6104 skakel.



