Carletonville se Jamie James droom groot met sy musiekloopbaan
Die jong sanger wil met sy musiek mense se harte raak en saam met ander plaaslike kunstenaars die Suid-Afrikaanse musiektoneel versterk.
‘n Opkomende sanger van Carletonville, Jamie James, het ‘n passie vir musiek en is gereed om gehore oral te bekoor.
Die 28-jarige Jamie James is ‘n jong kunstenaar met die groot droom om ‘n suksesvolle loopbaan in die musiekbedryf te bou en sy musiek met mense regoor Suid-Afrika te deel.
Vir Jamie is musiek veel meer as net ‘n loopbaan; dit is sy passie, sy manier om emosies uit te druk en ‘n manier om mense te bereik.
Jamie se musikale reis het reeds op laerskool begin, waar hy in die koor van Laerskool Ebenhaeser in Krugersdorp gesing het. Sy onderwyseres, Riana Taljaard, het vroeg reeds sy talent raakgesien en hom aangemoedig om nie op te hou nie. Haar geloof in sy vermoëns het ‘n belangrike rol gespeel in die begin van Jamie se musikale droom.
Die jong sanger het sy hoërskooljare aan Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein voltooi, waarna hy en sy gesin na Carletonville verhuis het. Hy was voorheen in ‘n privaatskool en het ná skool besluit om sy passie vir musiek ernstig na te jaag en sy eie pad as kunstenaar te begin.
Sowat agt maande gelede het Jamie sy eerste enkelsnit, Steel My Hart, vrygestel. Dit was die begin van ‘n nuwe hoofstuk in sy lewe en die eerste groot stap om sy droom as kunstenaar ‘n werklikheid te maak. Jamie het op 6 Mei vanjaar ook die geleentheid gekry om ‘n onderhoud met Groot FM 90.5 te hê.
Dié onderhoud was vir hom ‘n belangrike mylpaal en ‘n suksesvolle ervaring wat hom verdere motivering gegee het om aan te hou bou aan sy musiekloopbaan. Jamie glo sterk dat kunstenaars in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf mekaar moet ondersteun.
Daarom probeer hy ook geleenthede skep om met ander plaaslike kunstenaars saam te werk. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is sy enkelsnit Windgat op WhatsApp, ‘n samewerking tussen hom en Riaan Kukard.
“Deur saam te werk, kan kunstenaars mekaar help groei, nuwe gehore bereik en die Suid-Afrikaanse musiektoneel verder versterk,” sê Jamie. Hy glo sy musiek is bedoel vir almal. Hy is ‘n familiegerigte mens en glo dat musiek die vermoë het om mense se harte te raak.
“Miljoene mense hoef nie noodwendig na my musiek te luister om my doel te bereik nie. As my musiek selfs net een persoon se lewe, dag of hart kan raak, voel ek dat my werk gedoen is,” sê dié slim jong man. Jamie glo dat musiek medisyne vir die siel kan wees. “Ons almal ervaar verskillende emosies. Soms is ons hartseer, soms kwaad en ander kere is ons gelukkig. Musiek kan saam met ons deur elkeen van daardie oomblikke stap,” sê hy.
“Musiek is vir almal, en daar is ‘n lied vir elke emosie, elke herinnering en elke mens,” is sy boodskap. Dit is die boodskap wat Jamie James met sy musiek wil uitdra.
Met sy passie, geloof in samewerking en liefde vir musiek is Jamie James vasbeslote om aan te hou groei as kunstenaar en sy plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te vind.



