Jy moet deesdae fris wees om te bestuur
Net wanneer Wysneus gedink het hy het alles gesien, dan is daar van ons inwoners wat hom verras.
Net wanneer Wysneus gedink het hy het alles gesien, dan is daar van ons inwoners wat hom verras.
Wysneus het Maandag rustig in Onyx-rylaan in Carletonville afgery toe hy een van die verkeersligte agter een van daardie tipiese stadige vragmotors met ‘n leerlingbestuurder agter die stuur stop. Dié goed het mos die manier om juis voor mens te land wanneer jy op jou haastigste is.
Groot was Wysneus se verbasing egter toe hy sien dat dit, volgens die bewoording aan die agterkant van die kajuit,
nie ‘n leerlingbestuurder agter die stuur was nie. ‘n Duidelike teken met die woorde “Caution leaner driver” is
daarop geverf.
Dié teken het Wysneus laat wonder. Daar is deesdae soveel reëls en regulasies waaraan bestuurders moet voldoen.
Het hy die een gemis wat sê dat maer mense ‘n gevaar op die pad kan inhou? Of moet ‘n mens darem deesdae
‘n rolletjie of twee hê indien jy ‘n vragmotor wil bestuur? Maar alle grappies op ‘n stokkie. Wysneus hoop net dat die betrokke bestuurskool mense beter leer bestuur as wat hulle self kan spel. Almal maak so nou en dan ‘n foutjie, maar om só ‘n spelfout nie raak te sien wanneer dit met groot letters op jou voertuig geverf is nie, is darem bietjie erg.
Iets wat Wysneus egter nie laat glimlag het nie, was toe ‘n kollega hom vertel dat sy die afgelope week amper nie
‘n maer bruin hond kon afskud toe sy foto’s by die ou munisipale terrein langs Agnew-rylaan gaan neem het nie.
Die munisipaliteit het verlede jaar die gebou op die terrein laat sloop na dit te onveilig vir vullisverwyderaars geraak
het om hul voertuie daar te parkeer.
Die jong, liefdevolle hond was die teenoorgestelde van die onvriendelike mense, waarvan verskeie vermoedelik onwettige myners is, wat op die terrein woon. Hoewel ‘n mens nie sommer só ‘n hond kan oplaai nie omdat jy nie weet aan wie dit behoort nie, is daar ‘n sterk vermoede dat dit nie oorspronklik een van dié mense se hond was nie, aangesien hulle hul op die oog af maar min aan die dier gesteur het en die hond duidelik uit sy vel uit was van blydskap om besoekers te sien.
Aan wie het hierdie liewe dier aanvanklik behoort? Een van die talle mense wat alewig hul hekke oop los sodat hul troeteldiere die strate kan inhardloop?
Indien hulle doodgery word, kry só ‘n gesin maar net nog een. Of was dit die troeteldier van iemand wat net weggetrek het en dit sommer sonder heenkome agtergelaat het?
Ongelukkig is albei van hierdie opsies baie moontlik in ons gemeenskap waar heeltemal te min mense na hul troeteldiere omsien. Wysneus hoop dat sulke mense op een of ander wyse tot insig sal kom en sal besef dat ‘n
hond, of kieter, eintlik hul beste vriend kan wees en verdien om soos ‘n familielid behandel te word.
Intussen klou arme Wysneus, en hy glo ander inwoners ook, krampagtig aan sy beursie vas wanneer hy dink aan al die verhogings wat ons nou na verlede week se begrotingsrede inwag.
Hoewel die petrolprys ook as gevolg van die sterker rand volgende week met 38 sent ‘n liter en die dieselprys met 47 sent gaan verlaag, gaan die nuwe prys weer as gevolg van die hoër nuwe belastings met 52 sent ‘n liter verhoog.
Indien dinge só aangaan, sal ou Wysneus verseker aan sy perdry-vaardighede moet werk.