Klein Mikayla Smit is nou maar net agt jaar oud, maar wys reeds dat sy die potensiaal het om in haar beroemde ma, Anika Smit, se voetspore te volg.
Klein Mikayla, ‘n graad drie-leerling aan Laerskool Dagbreek, het einde verlede jaar van Rustenburg na Carletonville getrek sodat sy deur haar ouma, Annetjie Smit, afgerig kan word.
“Mikayla het reeds verlede jaar, toe sy nog op Rustenburg in die skool was, gewys dat sy baie potensiaal het. Sedert einde verlede jaar, wat sy vir die eerste keer in haar lewe afrigting kry, begin sy baie goed doen,” sê Smit.
Mikayla presteer in die 60 m en 80 m naellope en was by haar skool se huissport, ‘n groot byeenkoms in Magaliesburg, by die Interlaer en by die Merafong kampioenskappe onoorwonne in dié twee afstande gewees. Sy het by twee van dié byeenkomste ook as victrix ludorum weggestap.
Sy het verlede Vrydag vir die Gauteng atletiekkampioenskap gekwalifiseer toe sy tydens die D2-kampioenskap by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp die 60 m gewen en naelskraap in die 80 m tweede gekom het.
Hoewel Mikayla maar skamerig is, reken haar ouma dat sy moontlik in haar ma, wat verskeie internasionale titels waaronder ‘n gouemedalje in hoogspring by die 2006 Statebondspele in Melbourne in Australië ingepalm het, kan volg.
“Haar ma het ook op dieselfde ouderdom in dieselfde items begin presteer. Mikayla is ook lank, wat haar ‘n voordeel bo ander atlete gee. Ons wil haar egter nie druk nie want sy moet die sport geniet. Indien sy nie op ‘n dag wil oefen nie, dan hoef sy dit nie te doen nie,” sê haar ouma.
Anika hou egter gelukkig baie van sport, en geniet in besonder gimnastiek baie.
Volgens Smit het sy eintlik vanjaar beplan om af te tree, maar was die uitdaging om haar kleindogter af te rig, net te groot om te gaan rus.
Sy het ook self haar beroemde dogter sowel as verskeie ander uitstaande atlete afgerig.
“Ek word vanjaar 60 en dis vir my ‘n groot voorreg om nog so aktief te kan wees en om nou my kleindogter ook te kan afrig,” sê sy.





