Mej Callies tydens swierige funksie aangewys
Hoërskool Carletonville se Mej Callies 2019 is verlede week tydens ‘n swierige byeenkoms by die skool aangewys.
Dié jaarlikse byeenkoms, ‘n hoogtepunt op die skool se sosiale kalender, is op 1 Augustus gehou.
Die spoggerige geleentheid het die gehoor se asem weggeslaan. Danksy die toegewyde debutante, hardwerkende skoolpersoneel en bekwame choreograaf, Bianca Welsh, was dit ‘n suksesvolle aand waarop die skool en gemeenskap kan trots wees.
Ryno Kent en Kyla Coetzee is as Mnr en Mej. Callies 2019 aangewys. Werner Oosthuizen en Elzaan Koegelenberg was tweede en Zane Eloff en Shaina-Leigh Koen derde. Mnr en Mej Persoonlikheid, wat deur die debutante self aangewys word, is Werner Oosthuizen en Claurinda Schlebusch. Fotogenies is gewen deur Henk Oosthuizen en Makayla Vermaak.
Die debutant wat die meeste geld ingesamel het, is Ilze-Marie Oosthuizen.
Om ‘n debutant van mnr en mej Callies te wees verg harde werk en baie toewyding. Finaliste het pragtige gemeenskapsprojekte gedoen, fondse vir die skool ingesamel en baie kaartjies verkoop on die gala-aand ‘n onvergeetlike aand te maak. Dan is daar die voorbereiding vir die gala-aand! Vir ‘n week lank is daar baie hard geoefen en groot kreatiwiteit is aan die dag gelê om van die aand ‘n glansgeleentheid te maak. Met die gewilde groep ADAM as gaskunstenaar en die mooie dames getooi in aanddrag, verskaf deur Smart guy & Smart Bride, Deo Gloria Dresses sowel as M.Bezuidenhout Couture, was dit die ideale afsluiting tot ‘n uitsonderse mooi aand.
Baie dankie aan al die borge wat die debutante jaarliks so goed ondersteun, sowel as die gemeenskap en ouers met hulle oop harte en hande, dit dra by tot die sukses van die geleentheid.
Baie geluk aan ieder en elk wat deelgeneem het en ‘n groot dank aan almal wat bygedra het tot nog ‘n asemrowende mooi aand.




