NewsNewsSportSport

Gimnaste wys wat in hulle steek

Lede van die Losberg gimnastiekklub in Fochville kon die afgelope naweek hul vaardigheid voor ‘n nasionale skeidsregter beproef.

Die klub se hoofafrigter en eienaar, JJ Strydom, sê klublede kon Saterdag aan ‘n vriendskaplike kompetisie deelneem. Behalwe vir klublede van ons omgewing, het ‘n besoeker van Pretoria ook kom deelneem. Die kompetisie is by die klub in Vredestraat gehou.
Die beoordelaar was Joyce Fourie, wat verlede jaar by die nasionale kampioenskap beoordeel het en ook al oorsee as beoordelaar opgetree het.
Sewe seuns, wie se ouderdomme tussen sewe en 18 jaar gewissel het, en agt meisies, waarvan die jongste ses en die oudste 15 was, kon hul vaardigheid toets.
Seuns kon met vloeroefeninge en op die ringperd, brug, perd, rekstok en ringe wys hoe hul in die sport gevorder het, terwyl meisies hul staal op die vloer en met spronge, ongelyke brug en balk kon wys.
In die hoë klas vir seuns was Dawid Pretorius eerste, Kgosi Msimango tweede en Jaundre Bothma derde.
Die sterre in die hoë klas vir meisies was Daniëlle Strydom (eerste), Alejaundra Pretorius (tweede) en Tristan Ferreira (derde).
Volgens Strydom was die afgelope naweek se vriendskaplike kompetisie die ideale voorbereiding vir ‘n groot kompetisie in Kemptonpark waaraan lede op 29 en 30 Julie gaan deelneem.
Die kompetisie was toevallig op dieselfde dag wat die klub twee jaar gelede, gestig is.
Dit is ‘n jaar vantevore as deel van die Tuks gimnastiekklub begin.
Strydom sê hy het groot planne vir die klub. Lede wat wou, kon onlangs met parkour begin, terwyl ‘n tweede klub vir Westonaria ook deel van sy beplanning is.
Diegene wat meer wil weet, kan op die klub se Facebook-blad óf TikTok-blad by Losberg Gymnastics (@losberggymnastics) op TikTok gaan kyk.

Die klub se meisies wat aan die kompetisie deelgeneem het, saam met hul afrigter, JJ Strydom. Foto’s: Verskaf
Die seuns wat aan die kompetisie deelgeneem het.

 

Related Articles

 
Back to top button