Hoërskool Fochville het die afgelope week uitstekend tydens die Platinum Interhoër in Potchefstroom gevaar.
Die byeenkoms is Vrydagmiddag en -aand by die Kenneth McArthur Ovaal in Potchefstroom gehou.
Hoërskool Fochville het teen atlete van Hoërskool Wolmaransstad, die Hoërskool Wagpos van Brits, Hoërskool Bekker van Magaliesburg, Hoërskool Schoonspruit van Klerksdorp, ASEO, Hoër Tegniese Skool Potchefstroom, Hoër Tegniese Skool Klerksdorp, Millision, Curro and Hoërskool Ferdinand Postma van Potchefstroom meegeding.
Hoewel Fochies die meeste goue medaljes van al die skole ingepalm het, was hul algeheel derde.
Hoërskool Fochville het 41 goue medaljes gewen, maar net 75 algeheel.
Die Hoërskool Wagpos was die wenners na hulle 92 medaljes gewen het, hoewel net 28 hiervan goud was. Hoërskool Wolmaransstad was tweede met 89 medaljes algeheel.
Behalwe dat hulle die meeste goue medaljes ingepalm het, het Hoërskool Fochville ook by ver die meeste rekords van enige skool wat aan die byeenkoms deelgeneem het, gewen.
Fochies se atlete het altesaam 20 rekords laat spat, terwyl Wolmaransstad en Wagpos onderskeidelik net 16 en 14 rekords kon breek.
Mieke Gerber, Lalu-Jé Viljoen, Kayla Maree en Kgau Mokone het die rekords in die 100m en 200m in hul onderskeie ouderdomsgroepe gebreek. Suzelle Smith het die 200m rekord gebreek, Juandré Graaff die 200 m en 400m rekords, Jaydean Lourens die rekord in die 90m hekkies, Marli Labuschagne die 300m hekkies rekord, Megan Smith die rekord in die 90m en 300m hekkies, Kevin de Bruin die hoogspring rekord en Dewald Prinsloo die gewigstoot en diskus rekords.
Fochies se o14 en o16 meisies 100m aflospanne het ook die rekords in dié items gebreek. Juandré Graaff word as Junior Victor Ludorum aangewys en wen ook vyf uit die ses individuele trofeë tydens die byeenkoms.
Suzelle Smith is die Senior Victrix Ludorum en Mieke Gerber die Junior Victrix Ludorum.
Mieke word ook as die beste baanatleet aangewys.
Dewald Prinsloo stap met die trofee as beste veldatleet weg.



