Fochville se 16de Straatmyl ‘n reuse-sukses
Sowat 1 000 deelnemers het vanjaar hul bene gerek.
Losberglaan in Fochville het op 28 Oktober gegons van opwinding, energie en gemeenskapsgees tydens die 16de jaarlikse Straatmyl.
Die Straatmyl is deur RE/MAX Gold en Figuras aangebied en is een van die hoogtepunte op die dorp se gemeenskapskalender.
Volgens die organiseerders het ongeveer 1 000 deelnemers hul bene tydens die geleentheid gerek.
Altesaam 405 advertensieborde van 234 besighede wat as borge betrokke was, het langs die hoofstraat gepryk.
Vanjaar sal die fondse wat deur die Straatmyl ingesamel is aan ongeveer 20 verskillende begunstigdes beskikbaar gestel word, waaronder plaaslike skole, welsynsorganisasies en ander instansies wat ‘n belangrike rol in die Fochville gemeenskap vervul.
Die organiseerders het almal bedank wat vanjaar se Straatmyl ‘n sukses gemaak het en ook die inwoners van Fochville en omliggende gemeenskappe vir hul teenwoordigheid, entoesiasme en voortdurende ondersteuning bedank.
“Die 16de Straatmyl was weereens ‘n bewys dat Fochville ‘n gemeenskap is wat omgee, saamstaan en graag ‘n verskil maak,” sê hulle.



