Hoërskool Carletonville se Interhuis atletiek laat rekords spat in vuurwarm byeenkoms
Hoërskool Carletonville se jaarlikse Interhuis atletiekbyeenkoms op 24 Januarie was ’n dag van uitsonderlike prestasies en rekordbrekende tye.
Die warm somerson kon nie kers vashou by die vuurwarm vertonings op die baan nie, toe Hoërskool Carletonville se top-atlete op 24 Januarie kragte gemeet het tydens hul jaarlikse Interhuis atletiekbyeenkoms.
Mbali Danster is met 641 punte as Junior Victrix Ludorum aangewys, terwyl Mikayla Smit met 861 punte die toekenning as Senior Victrix Ludorum ontvang het. Mpumelelo Ledwaba is met 581 punte as Junior Victor Ludorum aangewys, terwyl Riaan Mostert met 734 punte met die toekenning van Senior Victor Ludorum weggestap het.
Dit was ‘n dag waar verskeie skoolrekords herskryf is. Veral die naellopers het die toeskouers op hul voete gehad met blitsvinnige tye wat die rekordboeke laat sidder het.
Die 100m- en 200m-items was die hoogtepunt van die dag. Kabelo Letsitsi het die dogters o14 100m-rekord verpletter deur dit van 12.88 na ‘n ongelooflike 11.58 te verbeter.
Die Senior Victrix Ludorum, Mikayla Smit, het gewys waarom sy die titel verdien deur twee rekords op haar naam te skryf: die 100m vir dogters o16 (12.88) en die 200m (26.00).
By die seuns het Shawn Barnard (o17) die 100m-rekord na 11.03 verlaag, terwyl Tshepo Mokgotsi die o19 200m-rekord in 22.11 klaargemaak het.
Dit was nie net op die plat drafvlakke waar geskiedenis gemaak is nie. Chevandre Oats en Owan Mogotsi het saam geskiedenis gemaak deur die o14 100m-hekkies rekord na 18.03 te verbeter. Xolani Kotoi het die o19 110m-hekkies rekord na 16.10 verlaag.
Kabello Mochabane het die o17 800m-rekord na ‘n skitterende 2:00.00 verbeter. Riaan Mostert, die Senior Victor Ludorum, het sy krag gewys deur die o17-diskusrekord na ‘n nuwe afstand van 43.49m op te skuif. Met hierdie uitslae lyk Callies se atletiekseisoen belowend.



