Fochville-ruitertalent Annemie Brandon blink uit teen VSA in internasionale kompetisie
Die Fochville-ruiter Annemie Brandon het Suid-Afrika met trots verteenwoordig as deel van die Saddle Seat Proteaspan wat teen die Verenigde State meegeding het.
‘n Ruiter van Fochville het die afgelope vakansie haar staal in ‘n kompetisie teen die VSA gewys.
Annemie Brandon was deel van die internasionale Saddle Seat Proteaspan wat in Desember teen die Verenigde State deelgeneem het. Annemie het Suid-Afrika in die drie- en vyfgang afdeling verteenwoordig.
Die SA vyfgang-span het met die goue medaljes weggestap terwyl die driegang-span silwermedaljes verower het.
Annemie is vir die nasionale span gekies na sy uitstekend tydens verlede jaar se nasionale Saalperdkampioenskappe presteer het.
Sy word deur Dale van Rensburg afgerig.
“Ons sê baie dankie vir Dale wat in haar glo en al die harde werk saam met Annemie insit om dié groot sukses te kon behaal,” sê Annemie se ma, Anita.
Annemie gaan einde dié maand weer aan ‘n kompetisie deelneem om ‘n plek in die span te kry wat later vanjaar in die VSA gaan deelneem.



