Fochies se wintersportspanne skitter in Super 16-reeks
Hoërskool Fochville presteer sterk in NWU-kompetisie ondanks uitdagende weerstoestande
Die atletiekseisoen is skaars afgehandel of Hoërskool Fochville se wintersportspanne is reeds volstoom aan die gang.
Die skool se rugby-,netbal-, hokkie, skaak- en gholfspanne het tydens die onlangse Super 16-reeks uitstekend presteer.
“Om deel te neem aan die Super 16 wat deur die NWU aangebied word is ‘n groot voorreg en ideale voorbereiding vir die ligas,” sê die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita.
Sy sê Fochies se poelwedstryde het reeds einde Februarie begin teen skole soos Wolmaransstad, Vryburg en Schoonspruit. Direk na die vakansie was die semi’s in Vryburg en voorverlede naweek die finale rondtes in Potchefstroom.
“Ongelukkig het die baie reën, nes in 2025, veroorsaak dat baie van die wedstryde nie kon plaasvind nie. Die span wat die beste gevaar het, was beslis die o15-hokkiespan wat met ‘n tweede plek tevrede moes wees na ‘n senutergende “8-seconds” teen Ben Viljoen van Groblersdal. Uit die 16 skole het die netbal algeheel sesde geeïndig, die rugby 10de en die hokkie 11de. Ons gholfspan het vierde geeïndig en die skaak sewende. Baie geluk aan elke speler en afrigter en sterkte met die ligawedstryde wat nou voorlê,” sê De Mesquita.



