Local newsNews

Oud-Fochviller Klaus-Louis Jansen van Vuuren skitter in nuwe produksie

Die voormalige Hoërskool Fochville-leerling bring Philip de Vos se geliefde gedigte en limirieke tot lewe in Jy moet sing soos jy gebek is, met premières in Tulbagh en Pretoria.

‘n Oud-Fochviller gaan binnekort tydens ‘n nuwe produksie die gehoor op sy voete hê.

Klaus-Louis Jansen van Vuuren is ‘n oud-leerling van Laerskool en Hoërskool Fochville wat besig is om ‘n groot naam as ‘n sanger te maak. Klaus-Louis, wat in 2012 aan Hoërskool Fochville gematrikuleer en daarna drama aan Tukkies gaan studeer het, is steeds by van die skool se kultuuraktiwiteite betrokke.
Dié oud-Fochviller met sy diep liriese, nostalgiese en emosionele stem is binnekort deel van die nuwe produksie Jy moet sing soos jy gebek is.

Dié produksie bied toonsettings van Philip de Vos se guitige limirieke, fyn humor en unieke woordspel deur die gerekende komponis Franco Prinsloo en die talentvolle Klaus-Louis. Die première vind op 19 en 20 Junie plaas by die FAK-Kultuurnaweek op Montpellier Wynlandgoed net buite Tulbagh, waarna dit op 24 Junie by UNISA se Dr. Miriam Makeba-konsertsaal aangebied word as deel van die KLINK: Klank in Ink-konsertreeks.

Jy moet sing soos jy gebek is, is veel meer as ‘n tradisionele sangproduksie. Die program ondersoek die kreatiewe kruisbestuiwing tussen woord en musiek, hoe poësie nuwe betekenis kry wanneer dit gesing word, en hoe musiek die emosionele onderstrominge van digkuns belig.

Die produksie verweef humor, herinneringe, satire, nostalgie en broosheid in ‘n intieme aanbieding waarin bekende én minder bekende tekste van Philip de Vos op vars wyse ontsluit word.

“Ek dink mense assosieer my dikwels met limirieke en humor,” sê De Vos. “Maar daar is ook meer liriese en nostalgiese aspekte in my werk. Dit is vir my besonders om te hoor hoe Franco se toonsettings nuwe dimensies in die gedigte ontsluit en hoe die musiek soms emosies blootlê wat selfs tussen die woorde versteek lê.” Vir Prinsloo lê die aantrekkingskrag van die projek juis in die musikaliteit van De Vos se taalgebruik.

“Philip se tekste is ongelooflik musikaal om mee te werk. Daar is ritme, warmte en emosie reeds in die gedigte opgesluit,” sê Prinsloo. “My uitdaging was nie om die gedigte te oorweldig nie, maar om die musiek só te skryf dat dit saam met die poësie asemhaal.”

Jansen van Vuuren beskryf die produksie as ‘n ervaring waarin humor en menslikheid voortdurend hand aan hand loop.

“Wat hierdie produksie vir my besonders maak, is die manier waarop humor en menslikheid voortdurend langs mekaar bestaan,” sê hy. “Een oomblik lag jy oor Philip se skerp waarnemings, en die volgende oomblik tref die broosheid en nostalgie van die teks jou onverwags diep.”

Die produksie vorm deel van ‘n groeiende beweging waarin Afrikaanse woord- en musiekkuns op nuwe en verbeeldingryke maniere herbesoek word vir kontemporêre gehore. Kaartjies vir alle konserte is beskikbaar aanlyn by www.heyzuva.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Carletonville Herald in Google News and Top Stories.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button