Local newsNews

Fochie-skuts verteenwoordig Suid-Afrika in Londen

Chanel van Wyk en Ané Gerber het ná indrukwekkende nasionale prestasies hul plekke in die Suid-Afrikaanse skolespan losgeskiet.

Twee leerders van Hoërskool Fochville, Chanel van Wyk en Ané Gerber, het ná die nasionale proewe hul plekke in die SA-span losgeskiet en verteenwoordig die land tans by die British Junior International-kompetisie in Londen.

Volgens die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita, het die twee graad 11-leerders op 10 Augustus as deel van die SANSSU (Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie) skolespan na Londen vertrek, met die kompetisie wat vanaf 16 tot 20 Augustus plaasvind.

Ná maande van voorbereiding, weeklikse oefening en die uitdunne wat reeds in April begin het, het die afwagting nou plek gemaak vir opwinding.

Chanel neem aan die sporterklas-geweerafdeling deel en het ‘n indrukwekkende 18de plek in Suid-Afrika behaal. Haar persoonlike doelwit is om eendag haar 900 punte los te skiet.

Haar ma, Janette, sê sy het van die begin af Chanel se potensiaal raakgesien.

“Sy het baie meer bereik as wat sy self gedink het sy sou. Haar deursettingsvermoë en harde werk het vrugte afgewerp. Ek is ongelooflik trots op haar.”

Haar pa, Reinier, sê hy is veral trots daarop dat Chanel verder as sy eie sportprestasies gevorder het.

“Haar deursettingsvermoë en harde werk het haar gebring tot waar sy nou is. Dit is ‘n ouer se droom.”

Hy haal ook Nelson Mandela aan: “It always seems impossible until it’s done.”

Vir Chanel was die nasionale uitdunne ‘n emosionele ervaring. Met slegs 23 plekke in die span het die spanning toegeneem namate die name aangekondig is.

Intussen het Ané die skietgemeenskap behoorlik van haar laat kennis neem. Sy het aan die pistoolklas deelgeneem en met ‘n uitsonderlike tweede plek in Suid-Afrika geëindig. Ané het reeds in graad sewe met skyfskiet begin en haar harde werk het haar nou tot op ‘n internasionale verhoog geneem.

Haar ouers, Petro en Christo, sê hulle harte bars van trots oor wat Ané reeds bereik het.

“Om te dink dat hierdie meisiekind van ons nou tweede in die land is, is vir ons as ouers ongelooflik besonders. Ons weet hoeveel oefening, fokus, opofferings, frustrasie en harde werk agter daardie prestasie lê.”

Hulle sê dit is egter nie net Ané se prestasies wat hulle trots maak nie, maar ook haar vasberadenheid om aan te hou wanneer dinge nie altyd perfek verloop nie.

“Ons is trots op elke medalje en elke goeie skoot, maar veral op die kere wat dinge nie perfek gegaan het nie en sy steeds opgestaan en weer probeer het.”

Ané se reis na Londen is daarom vir haar én haar familie ‘n besonderse mylpaal.

“Ons is ongelooflik trots om jou ouers te wees. Tweede in Suid-Afrika en nou op pad Londen toe — droom groot, Ané!”

Ondersteuningsboodskappe, gelukwense en versoeke vir foto’s het ingestroom terwyl die twee Fochville-skuts hul tasse vir die avontuur van ‘n leeftyd gepak het.

Hoërskool Fochville hou asem op en staan bankvas agter die twee skuts.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Carletonville Herald in Google News and Top Stories.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button