Fochies se netbalspelers wys hóé
Die span is reg om volgende jaar weer hul skool se naam hoog te hou.
Hoërskool Fochville se o.16 A-netbalspan het die afgelope week hul staal tydens ‘n groot kompetisie gewys.
Volgens die skool se woordvoerder, me. Elsabe de Mesquita, het die span Vrydag, 31 Mei en Saterdag, 1 Junie die besondere voorreg gehad om hulle staal in die Jomo netbalkampioenskap by Crawford College in Ruimsig te gaan wys.
Dié besondere voorreg het hulle ook as o.14A span te beurt geval. Fochies het teen Crawford College, Lonehill College, Hoërskool Jan Viljoen, Rand Park High School, Trinity House, Hoërskool Linden en Reddam House Bedfordview gespeel.
“Ons het net-net vyfde geëindig, maar die tellings was só naby ons kon met ‘n bietjie geluk derde gewees het,” sê De Mesquita.
“Kameraadskap, harde werk en besondere talente ontvang van Bo, was die wenresep vir ‘n uitsonderlike netbalseisoen. Ses wedstryde verder en ons drie afrigters staan verstom oor ons dogters se uitslae en kan nie anders as om hulle grootste ondersteuners te bly nie. Groot dank ook aan elke ouer wat ons as afrigters, naamlik Elsabe de Mesquita, Jaylene Evert en Megan van der Westhuizen altyd op die hande dra en ondersteun. Ons sien met groot verwagting uit na ons 2025 netbalseisoen,”



