Die skole wat deelgeneem het sluit in Callies, Steelcrest High, Allen Glen, Hoërskool Zeerust, Die Anker, Bracken High en Hoërskool Warmbad. Dit was harde wedstryde wat in albei sportsoorte gespeel is.
Die reeks is gebruik ter voorbereiding vir die komende liga wat op Saterdag 4 Mei begin. Met die uitslae wat die spanne tot dusver behaal het, sien die skool uit na ‘n baie goeie wintersportseisoen.
Twee spanne wat egter kop bo water bo die res uitstaan, is Callies se eerste netbalspan, wat deur mnr. Stephan van Rensburg afgerig word en die o.14 netbalspan, wat deur mej. Bianca Holton afgerig word.
Die twee spanne het die afgelope seisoen uitmuntend gespeel en die afgelope Saterdag in die finaal van die Twizza-reeks by Hoërskool Zeerust gaan speel.
Die eerstespan het tweede in die taai reeks geëindig na hulle met net een punt teen die span van Allen Glen verloor het. Die telling was 27 – 28.
Die o.14-span van mej. Bianca Holton, wat in die reeks in die o.15 ouderdomsgroep gespeel het, het gewys dat die toewyding, opoffering en harde oefening wat in vakansie plaasgevind het, vrugte afgewerp het. Dié span is Saterdag as wenners van die Twizza-reeks aangewys na hulle die span van Allen Glen met ‘n telling van 19-11 in die stof laat byt het.
Callies se rugbyliga skop ook dan die komende naweek af wanneer hulle Hoërskool Goudrif in die openingswedstryde tuis gaan pak. Al vyf rugbyspanne speel Saterdag en almal word uitgenooi om die seuns te kom ondersteun.
Callies speel ook op 11 Mei teen President Hoërskool en op 18 Mei teen Allen Glen tuis.





