NewsNews

Sakeman en sy vrou verskyn weer in hof vir bedrog

Ben Otto se regsverteenwoordiger in die saak, mnr. Johan le Grange, het hom by mnr. Otto onttrek, maar gaan steeds vir mev. Otto verteenwoordig.

Die bedrog en geldwasserysaak teen die eienaar van die gelikwideerde maatskappy, RSA Search, Ben Otto (68) en sy vrou Hannetjie Otto (69) het Woensdagoggend (23 November) voortgeduur toe hul albei vlugtig in die Potchefstroom landdroshof verskyn het.

Die saak is na Maandag, 12 Desember vanjaar uitgestel omrede Ben Otto vir regshulp aansoek doen. Sy regsverteenwoordiger in die saak, mnr. Johan le Grange, het hom by mnr. Otto onttrek, maar gaan steeds vir mev. Otto verteenwoordig.

Die paartjie het voorheen op Woensdag, 21 September in die landdroshof verskyn nadat die Valke hul  vir bedrog en geldwassery van ongeveer R 65 miljoen inhegtenis geneem het.

Die Valke se woordvoerder, Kapt. Tlangelani Rikhotso het in September 2022 bevestig dat Ben Otto vir 69 klagtes van bedrog en 31 klagtes van geldwassery aangekla word, terwyl sy vrou van ‘n enkele geval van geldwassery aangekla is.

Hulle was toe op R 10 000 borgtog elk vrygelaat.

Die rede vir hulle inhegtenisname hou verband met die Potchefstroom-gebaseerde maatskappy, RSA Search (Edms) Bpk wat sedert 2020 gelikwideer is. RSA Search was ‘n verblyfbesprekingswebwerf.

Die Valke verduidelik dat dit aan die lig gekom het dat RSA Search soos ‘n Piramide-skema funksioneer, aangesien fondse van nuwe beleggers gebruik is om die uitstaande dividende van vroeëre beleggers te betaal. Baie plaaslike beleggers het na bewering nooit hul geld terug gekry nie.

https://potchefstroomherald.co.za/117451/sakeman-en-sy-vrou-verskyn-weer-in-hof-vir-bedrog/?fbclid=IwAR2js7NVRjVm-9PYKG4D8Ad5E8xFDKxIE4Kp9a5YjyOg4zoi-mejmWBGQHA

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button